Tuesday, July 22, 2008

Die nuwe onverdraagsame manier om die Bybel anders te lees

Die nuwe onverdraagsame manier om die Bybel 'anders' te lees

"Ons moet ruimte vir meer as een siening laat. Dié soort verdraagsaamheid vra 'n etiek van lees" - prof Gerrie Snyman

Nou ja, hier volg my siening met al my bagasie en al:

Inleidend
So paar jaar gelede vertel iemand my van 'n nuwe politieke party wat gestig is in die VSA. Die naam van die party was, ek kan nie presies onthou nie, iets soos, "Die Verdraagsame Party".

Op die eerste bladsy van die party se verkiesingsblad, was 'n lang lys van sake wat die party beplan het om deur wetgewing te verbied, sodra hul aan bewind kom ...

Nou ja, ongeag of hierdie storie waar is of nie, dieselfde soort van 'verdraagsaamheid' vind ons in die boek van prof. Gerrie Snyman van Unisa, "Om die Bybel anders te lees. 'n Etiek van Bybellees", volgens die opsomming wat Snyman (?) hier gee: http://www.griffel.co.za/Bybellees_artikel_resensies.pdf (sien ook die resensies onder die opsomming, as bron van sekere verwysings in my skrywe wat volg. U word sterk aanbeveel om maar eers die opsomming en resensies van Snyman se boek te lees, voordat u my mening verder lees).

Om aan ander te doen wat jy nie aan jouself doen nie
Snyman se boek is 'n pleitdooi vir die volgende saak: "Omdat ons Bybellees sosiale belange dien, moet ons dalk ons belange op die tafel sit. Ek dink aan ras, geslag, seksulaiteit (sic), kultuur, klas, ekonomiese welvaart, epistemologie. Maar dit beteken dat ons nie meer die Bybel kan lees as sou dit net een ding beteken nie. Ons moet ruimte vir meer as een siening laat. Dié soort verdraagsaamheid vra ʼn etiek van lees"

Een van die gunstige resensies van die boek (Christo Lombaard) noem dan sekere van die 'belange' (voorveronderstellings?) van Snyman: "Snyman self erken gereeld die Grondwet van Suid-Afrika as deel van sy hermeneutiese raamwerk, soos ook sy vroeëre diensplig-ervarings, sy belewenisse rondom apartheid en, tans, rondom witheid en manheid."

En, met die Grondwet en sy persoonlike ervarings as deel van sy hermeneutiese raamwerk, gaan Snyman dan voort om “te doen aan ander wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.”

In sy opsommende artikel (saam met die inligting soos weergegee in die resensies van sy boek) loots hy 'n postmoderne kruistog teen ander mense wat die Bybel 'anders' lees.

Die Afrikaanse Reformatoriese tradisie
Sy onverdraagsaamheid is gemik teenoor die "Afrikaanse reformatoriese tradisie ... wat nog nie sover gekom (het) om ’n post-apartheid teologie te ontwikkel nie."

Die Hervormde Kerk, skuldig aan die onvermoë "om apartheid op teologiese gronde te verwerp, is ’n aanduiding dat dié reformatoriese tradisie nog nie begin het om die immoraliteit van apartheid teologies te verreken nie."

Die GKSA se weiering om 'n voorlegging te doen by die WVK het "nog steeds geen stappe gedoen om hulle teologiese hermeneutiek van rassistiese elemente te loog nie. Die NG Kerk, wat wel ’n voorlegging by die WVK gedoen het, het dit tot dusver ook nie gedoen nie."

Let op die woordeskat:

"Verwerp" ?

"Immoraliteit" ?

"Loog" ?

Is dit nie 'n te kras en moreel gelaaide woord vir 'n (post)moderne teoloog nie, iets wat eintlik in die ortodokse gereformeerde teoloog se woordeskat tuishoort (die leer van die uitverkiesing en verwerping) nie ?

En 'immoraliteit" ? Is dit nie die woordeskat, die "hell, fire en brimstone" woordeskat van 'n fundamentlistiese 'bible-thumping' leke-prediker nie, wat dink net hy is reg nie, en alle alternatiewe (lees: homoseksuele) lewensstyle verwerp nie ?

En 'om te suiwer', is dit nie die rassiste en die Israelvisie se taal nie ?

Of was dit dalk alles (hopelik?) net 'n freudiaanse glip ?

Ja, Snyman soek: "’n Post-apartheid teologie in navolging van ’n teologie na Auschwitz het nog nie hier posgevat nie" (wat Snyman eintlik wil sê: daar was en is nog nie genoeg brandstapels opgerig vir die apartheidsteoloë en hul nageslag nie).

Van politieke geskeidenheid na geloofsgeskeidenheid
En een van die slegte vrugte van die sogenaamde apartheidsteologie van die 'onheilige drie-eenheid', d.i. nou die drie susterskerke wat weier om te bieg, ten minste nie na behore volgens Snyman nie, is wat ons vandag nou sien: "Ons bly vasgevang in ’n geskeidenheid wat verskeidenheid van denke en sienings nie kan verdra nie. Dit sien mens duidelik in die gesprekke rondom die geloofsbelydenis oor die liggaamlike opstanding van Jesus. Mense wat laasgenoemde nie kan bely nie, moet uit die Christelike kerke padgee."

Sien u die lyn waarheen Snyman oppad is met sy 'anders' lees ?

Die 'politieke geskeidenheid' wat rasse, groepe, ens. geskei het, is die rede, die bron en oorsaak waarom die ART (Afrikaanse reformatoriese tradisie) nou ook of nogsteeds die Bybel lees as 'n boek wat leerstellige, geloofs, teologiese, geestelike, morele geskeidenheid bring.

Nie net die 'apartheidsteologie' nie, maar ook sommer die 'afrikaanse reformatoriese tradisie', wat deel is van die groter gereformeerde tradisie wêreldwyd, is bloot die vrug van 'sosiale belange'.

Nee, wag, daar stop dit seker nie: die Heilige Skrif self is seker die vrug van mense se 'sosiale belange' (sodoende ‘bedien’ Paulus nie God se wil vir die kerk en samelewing deur alle eeue nie, maar sy chauvinistiese patriargale 'subjektiewe heteroseksuele ideologie' en belange in 1 Tim.2 ?)

En al hierdie tyd, terwyl ons elkeen wat geloofsbelydenis afgelê het in die woorde van: "Glo en bely u dat die Ou en Nuwe Testament die Woord van God en die volkome leer van die saligheid is, soos dit ook in die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke uitgedruk word en in die kerk hier geleer word?", geglo het dat ons belydenis 'n samevatting is wat God in die Heilige Skrif ons leer oor wat ons moet glo en doen, was of is dit eintlik niks anders as bloot mense se subjektiewe verdraaide lees van 'n Teks (Die Bybel) of 'n teks (die belydenis) om bloot hul "sosiale belange (te) dien" nie ?

Paulus is teen die vrou in die amp, omdat hy 'n man is.
Totius is teen volkevermenging, omdat hy 'n witman is.
Die kerkrade tug homoseksueles, omdat hul heteroseksueel is.
En nie, omdat hulle geglo het (reg of verkeerd) dit is wat God leer in die Bybel nie.

Die Bybel, die hele Christelike geloof, die hele gereformeerde tradisie, die afrikaanse reformatoriese tradisie se doel was en is om mag uit te oefen, mense te beheer deur ‘gesaghebbende stories’.

Die kerk van Christus deur die eeue is die skeppende vernuf van die broederbonders deur die eeue, nie die vrug van God se werk in en deur Christus nie.

Alle sieninge is welkom ... solank dit net in lyn is met my siening
En dit is nou waar die groot ironie inkom: as volgens Snyman, elkeen geregtig is daarop om die Bybel 'anders' te kan lees, dat daar vir meer as een siening ruimte gemaak moet word d.w.s. wat dit verstaan en beteken, en ons daarteenoor 'verdraagsaam' moet wees ... hoekom wil hy dan nie daardie ruimte toelaat vir bv. apartheidsteologie nie ?

Hoekom is daar plek vir gayteologie, feministiese teologie, menseregte-teologie, swart-teologie ... maar nie vir apartheidsteologie nie ?

En, hoekom is daar dan nie ook sommer ‘n plek vir 'n verkragtings-, sodomie-, satans-, en nazi-teologie nie ?

Dit is ook 'ander' maniere om die Bybel te lees, of hoe ?

Ja, maar ons het 'n "openbare en politieke verantwoordelikheid", word teruggekap.

Waarop ou Niekie sal antwoord: Sê wie ?

Wie se openbare opinie en belange: Christene, nie-Christene, meederheid of minderheid, rykstes of armstes ?

Die sterktste ? Die wat nou al die politieke, ekonomiese, militêre en intellektuele mag in hande het ?

As ons genoeg mense in die land kan kry wat demokraties saamstem dat verkragting en sodomie reg is, dan kan daardie manier van die Bybel lees ook aanvaarbaar wees ?

En, aangesien waarheid ‘nooit’ vasstaan nie, kan dit eendag waarheid wees om vrouens te verkrag, of hoe ?

Onthou, die Bybel beteken nie "net een ding" nie en elke leser het sy 'eie leesstrategie', ook die verkragter, ook die kindermishandelaar.

Hoe word dan bepaal dat rassisme sogenaamd 'n gruwel is in God se oë, maar homoseksualisme nie, as die Bybel wel meer as 'een siening' oor 'n saak toelaat ?

Hoekom pas die skrywer nie self konsekwent sy eie oproep toe nie: "Byvoorbeeld, om ʼn persoon wat teologies van jou verskil uit die geloofsgemeenskap uit te dryf, is om nie meer verantwoordelik te voel teenoor daardie persoon nie" ?

Om u daardie vraag te toets en help antwoord: hoeveel 'apartheidsteoloë' is daar in die teologiese (of is dit nou die antropologiese?) departement van Unisa ?

Wie word nou uitgedryf en wie is nou werklik 'verdraagsaam' ?

Snyman se onverdraagsame strydlustige onderrok (ekskuus, onderbroek) teen almal wat met sy 'ander(se)' lees van die Bybel verskil, hang so vêr uit, dit lyk soos 'n sirkustent wat agterna gesleep word.

Hy sê: die ART het die Bybel gelees om hul sosiale belange te dien en daardeur apartheid opgerig, en dit is verkeerd, moet 'verwerp' word en moet (nogsteeds) beveg word, ens.

Nou kom Snyman, en hy lees doelbewus die Bybel deur die bril van die Grondwet en die nuwe SA geloofsideologie met sy gay en menseregte-agenda... maar dit is aanvaarbaar en 'verantwoordelik' ?

Die postmoderne koning het nie net geen klere aan nie … hy het nie eers ‘n enkele borshaar aan sy lyf nie !

Twee plus twee is alles behalwe vier
Snyman bely: "Lesers lees die Bybel op grond van hulle eie leesstrategieë. Dié strategieë word bepaal deur perspektiewe wat lesers het as gevolg van hulle sosiale ligging in die samelewing. Boonop is elke leser of groep lesers se konteks kompleks en eiesoortig, sodat interpretasies nie anders kan as om van mekaar te verskil nie. Dit beteken dat waarheid nooit objektief vasstaan nie. Daar is altyd een of ander perspektief verbonde aan die manier waarop ons waarheid uitdruk. Dit is ʼn subjektiwiteit wat op verskillende maniere na vore kom."

Nou hoe kan jy 'apartheid' of enige ander saak of idee of handeling enigsins beoordeel as reg of verkeerd, aanvaarbaar of 'verwerp(lik)' indien die waarheid nie objektief vas staan nie ?

Hoe kan jy vir iemand sê "waarheid staan nie vas nie", as jy dan self bely en glo dat daar baie 'subjektiewe' waarhede is ? Iemand ander se 'subjektiewe waarheid' is daar is 'waarheid wat vasstaan' ?
___________________________
Wiskunde meneer: Klas, hoeveel is 2 + 2 ?

Klas roep uit: 7 ! 2 ! 9 ! 0 ! 10 ! … (en laaste, maar nie die minste nie, roep piet postmodernis uit): blou !

Meneer: Oe-ai, julle is so oulik en goed met wiskunde. Baie mooi klas, julle het elkeen ‘n ander manier om by die ‘antwoord’ uit te kom ... wat ons in elkgeval nie weet nie. Maar onthou julle is almal eintlik ‘reg’ en stem eintlik almal saam, veral jy piet, jy is ook reg. Dankie vir jou 'ander' manier van getalle lees !

Martin: Die antwoord is vier !

Meneer: Maar my &^%($#@$#! Martin, ons weet mos dit kan enigiets wees, behalwe vier. Moet jy nou staan en ‘anders’ wees as ons ‘anders’ wees ?

Martin: Maar is ek dan nie ook 'reg' nie ? As hulle ook almal reg mag wees, hoekom nie ek ook nie ? Meneer sê dan dat meneer weet nie wat die antwoord is nie, en daarom help ek meneer. Hoe kan meneer dan vir my sê dit is nie vier nie as meneer dan nie self weet dit is nie vier nie ?

Meneer: Ag, moet jy jouself nou weer gaan staan en slim hou ? Jou 'oppervlakkige kritiek' kan ons natuurlik maklik beantwoord, maar 'ons' dink nie jy het 'n genoegsame 'teoretiese onderbou' om te verstaan nie.

Martin: Maar, meneer, ek probeer net die antwoord op die som gee ?

Meneer: "Net-die-antwoord-op-die-som-gee" Wie dink jy flous jy ? Ek kan mos duidelik sien dat jy een of ander sosiale belang van jou en jou onverdraagsame gereformeerde tradisies probeer dien met so 'n antwoord. Kom nou, wees nou eerlik, "verklaar jou filosofiese denkwapens", plaas jou 'voorveronderstellings' op die tafel, jou, jou "calvinis" Sê vir ons wat jy EINTLIK die hele tyd probeer sê vir ons wat 'anders' is ?

Martin: Wat ek 'eintlik' probeer sê is, dat die antwoord vir ons ALMAL 'vier' is ?Meneer: Ja, daar sê jy dit self ! Omdat JY glo dit is vier, nou moet ons almal by jou manier van wiskunde doen aanpas.

Martin: Huh ?

Meneer: JY dink seker jy is die enigste een wat die waarheid ken !? Jou pa het seker op die grens in Angola geveg en is 'n ART ouderling ?

Martin: Huh ?

Meneer: Hoekom is jy so onverdraagsaam teenoor die res van die klas se ander manier van wiskunde doen ? Dink jy JY het die waarheid in pag ? Dit is mense soos jy wat homofobies raak. Hoekom is jy nie bietjie nederiger nie ? "Twee-plus-twee-is-VIER"!? Wat gaan jy volgende vir ons sê: God het alles geskape, Jesus Christus is God en die Bybel is die absolute waarheid ?

Martin: Ja, vir ons ALMAL, hier staan ek, ek kan nie anders nie. _____________________________

Die nuutste dogmatisme en onwrikbare geloof van ons tyd: “Dit beteken dat waarheid nooit objektief vasstaan nie.”

Nooit nie ?

Goed, dit beteken dat hierdie sin “Dit beteken dat waarheid nooit objektief vasstaan nie” (en die hele boodskap van Snyman se boek inkluis) nou en vir die toekoms ook nie meer waar is en vasstaan nie.

So terloops, dit is een van die redes (saam met die prys) waarom ek besluit het om nie die boek aan te koop en te lees nie, want die ‘subjektiewe waarheid’ daarin is al lankal reeds nie meer die ‘waarheid’ nie. Ek kan die tyd vrugbaarder spandeer om om absolute waarhede te gaan lees in die Bybel en in geskrifte wat dit bely en uiteensit, o.a. die gereformeerde belydenis.

Nee, nee, probeer Snyman terugveg, "Maar die teks beteken nie sommer enigiets afhangende van die leser se ideologie nie. ʼn Leser se verstaan van die Bybel geskied altyd binne ʼn verantwoorde raamwerk, soos die manier hoe betekenis gekry word; die belange wat gedien word; die soort wêreld wat voorsien word; die rolle, pligte en waardes wat voorgehou word en die soort sosiopolitiese praktyke wat geregverdig word."

Maar, as jy in ‘n gat is, moet jy ophou grawe.

Want, hierdie paragraaf van Snyman beteken juis dat binne die 'raamwerk en sosiale belang' van die apartheidsbedeling dit regverdig en aanvaarbaar was en is, asook vir hulle wat die Bybel dan 'anders' (deur apartheidsbrille) lees, is dit mos reg en aanvaarbaar ?

Soos een van u gunstige resensies (HJM van Deventer) dit stel aangaande die lees van tekste (spesifiek Snyman s’n): “Hopelik sal die bespreking verder strek as die blote opstelling van antitetiese stellings. Om dit te voorkom word twee lesings voorgestel: die eerste om die sentrale argument te volg en die tweede om dan daardie argument ook op die lees van hierdie teks van toepassing te maak!”

Ja, inderdaad !

Die waarheid is 'subjektief'
Indien die sentrale argument van Snyman se boek, nl. dat waarheid subjektief is, ook van toepassing gemaak word op sy eie ‘beoordeling’ van ander ‘sosiale belange’, dan sal gevind word dat sy ervaring net so goed of sleg is as ‘n ART apartheidsteoloog s’n, en sien ek regtig geen rede waarom Snyman en alle ander nuwe SA demokratiese teoloë enigsins op sogenaamde ‘hoër morele gronde’ staan as die vorige bedeling nie ?

Onthou: “Christianity would be impossible without universal propositions (lees: ‘objektiewe waarhede’) … empiricism (‘subjektiewe waarhede’) can neither produce nor justify any universal proposition. The explanation is obvious: Experience is never universal." - Gordon Clark, “Lord God of Truth”.,p.35

As waarheid ‘nooit’ objektief vasstaan nie, kan ‘n mens mos nie jou subjektiewe idee van waarheid, geregtigheid, vrede, naasteliefde, versoening, ens. terug projekteer na die verlede nie ? Hou jou subjektiewe meningtjie vir jouself.

Die meeste wat ‘n mens dan kan doen is om te sê oor apartheid (of enige ander saak), wat my proffies vir my gesê as hul nie saamstem met die inhoud van my werkstukke nie, nl. “Baie interessant …”

As, volgens die aanhaling hierbo, die mens en sy 'sosiopolitiese praktyke' die norm is wat ons lees van die Bybel 'verantwoordelik' hou, dan beteken dit inderdaad dat die (postmoderne) problematiek van 'Bybel en mag' nou glad nie verdwyn het nie. Inteendeel.

Snyman en ander nuwe sa teoloë het ‘mag’ bloot verskuif van die ART (via die konfessies en kerkrade) na die Grondwet (via die parlament en die howe). Die Nuwe SA gaan die 'onderdrukkende kerkrade' se 'magsmisbruik' na 'n sondagskoolpiekniek laat lyk, soos hul al meer konsekwent hul gelykheid van godsdienste, gay en feministiese agenda gaan afdwing op hulle wat die Bybel 'anders' as Unisa lees.

Soos een van u gunstige resensies (HJM van Deventer) dit ook stel: "Dit bring Snyman daarby uit om die saak van die Bybel en mag op die tafel te plaas (p. 111 e.v.) en te ondersoek hoe die Bybel gebruik kan word om monologiese deklarasies te maak wat vanweë ʼn gebrekkige historiese bewussyn en ʼn positivistiese wetenskapsbeskouing nie gekritiseer kan word nie. Sodoende kan ʼn bepaalde (openbare of verborge) transkrip in stand gehou word. Snyman toon egter nie duidelik aan waarom ʼn nuwe openbare transkrip noodwendig beter sou wees as ʼn vorige nie."

En dit is waar Snyman op eindig.

Die verskuiwing van mag
Gesag, mag, onfeilbaarheid, waarheid, geregtigheid, ens verdwyn nooit nie, dit word net verskuif.

Die volke om Israel het dit in die natuurgode geplaas.
Die Romeinse ryk in die keisers
Die Rooms-Katolieke Kerk in die pous en die sigbare kerk

Snyman, op sy beurt, verwerp klaarblyklik die 'positivering' (lees sistematiese konfessionele teologie en belydenis) van die ATR (wat die Apostoliese Geloofsbelydenis van alle kerke deur die eeue insluit), en verruil dit goedmaklik vir die 'nuwe openbare manuskrip', die Grondwet van die Nuwe SA, met sy humanisties liberale menseregte ideologie, wat deur die Unisa fakulteit sedert die koms van die profeet Deist 'teologies regverdig' is vir ‘n nuwe utopia wat moes aanbreek.

En dalk omdat die huidige utopia tans so klaaglike mislukking is … moet ons ‘n paar dooie perde van die verlede nog gaan skop ? (in rugbytaal uitgedruk, net om te wys ek is ook van hierdie wêreld: om iemand in die stort te duik, lank na die wedstryd al verby is)

'n Ander gunstige resent (Reggie Nel) stel dit nog duideliker: "As indicated, this work deals powerfully with acute and complex matters. Snyman does this not by suggesting new developments from the fields of Biblical sciences and Hermeneutics. In fact, he states that these insights in Hermeneutics have been around for some time now. What is however refreshing is the way in which he brings these home, in terms of the pressing questions of a progressively maturing faithful, but also constitutional democracy."

As Snyman maar net die verwerping van die sg. apartheidsideologie voorgestaan het, dan sou hy nog baie Christene van die ATR agter hom moontlik verenig het. Maar, hy en die ander antropoloë by die godsdiens en 'teologie' fakulteit van Unisa wil die enigste Troos in lewe en sterwe, in liggaam en siel, ons Here Jesus Christus ook probeer wegneem.

Die ‘apartheidsisteem’ het geval, maar die ‘apartheidsdenke’ (lees: gereformeerde geloof) het nog nie geval nie, en DIT is vir Snyman ‘n groot steen des aanstoots.

Daarom die uitspraak: "Dit sien mens duidelik in die gesprekke rondom die geloofsbelydenis oor die liggaamlike opstanding van Jesus. Mense wat laasgenoemde nie kan bely nie, moet uit die Christelike kerke padgee."

Snyman beskryf dan sy 'probleem' met die debat oor Jesus se liggaamlike opstanding as volg: "In die debat word Jesus se dood en opstanding voorgehou as sou dit meer sin het as sy lewe. As sondelose en bowehistoriese figuur word hy geprojekteer as Seun van God wat versoening vir die mense se sondes kom doen het. Maar die fokus op sy dood en opstanding maak van sy geskiedenis op aarde net ’n oorgangsfase na die ewige eintlike wêreld. Die ‘hier en nou’ word versaak met ernstige gevolge. As lidmaat van ’n kerk in wie se midde die teologiese regverdiging van apartheid ontstaan het en later nooit kragdadig beveg is nie, word my bewussyn van ’n kollektiewe verantwoordelikheid nerens deur dié Jesus-teologie aangespreek nie. Trouens, in die plek van my eie verantwoordelikheid kom ’n kinderlik-passiewe verwagting dat my dade sonder gevolge kan wees, want Jesus het mos daarvoor gesterf. Die gelowige bly blind daarvoor dat dade, ook leesdade, gevolge het."

Dit klink mooi en vroom die woorde dat ons geloof as't ware nie 'n 'pie in the sky' moet wees nie (daarmee stem ons kuyperiaanse calvinisme mos volkome saam), soos een van sy gunstige resente (HJM van Deventer) spottenderwys na verwys: "Wat die voornemende leser opval wanneer hierdie netjiese publikasie ter hand geneem word, is dat dit veel swaarder voel as die pienk slapband geskriffies met gewaande godsdienstige inslag wat boekwinkels se rakke vol staan.” (kursief bygevoeg – SLC).

En tog, om maar Snyman se ‘etiek van Bybel lees’ te volg, is daar iets 'agter' hierdie woorde van Snyman wat hy nie op die tafel geplaas het nie, heel moontlik omdat dit nie sy 'sosiale belange' dien nie ?

Is daar nie baie meer agter die verwerping van die liggaamlike opstanding, as bloot die feit dat dit mense (verkeerdelik) van die hier-en-die-nou op aarde verantwoordelikheid teenoor my medemens wil ontsnap nie, en roekeloos lewe nie ?

Ek vermoed so, en omdat ek, volgens Snyman, ook geregtig is op ‘n siening, gaan ek dit gee:
Die Teks
Ek wil begin deur iets te doen, om die woorde van die (postmoderne?) Captain Kirk te gebruik “To go where no (postmodern) man has gone before” … en dit is ... om na die gesaghebbende Teks te gaan. Nie die Teks wat ‘uit die lug geval het’ nie, maar wat God deur al die eeue deur sy Gees en Woord bewaar het vir sy kerk, ook vir hierdie dag:

Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.
– 2 Kor.5:10

Hulle wat die liggaamlike opstanding betwyfel, het nie probleem, so lyk dit vir my, met ‘Jesus’ (die mens) nie maar wel met die ‘Christus’ (die Seun van God, sondeloos, God self).
Want laasgenoemde beteken Hy is ook die Regter, daarom die woorde ‘voor die regterstoel’ verskyn “sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad”

Die liggaamlike opstanding van Christus, bevestig nie net dat Hy leef nie, maar ook dat Hy regter gaan wees oor wat ons “deur die liggaam” verrig het. Ja, wat ons hier gedoen het op aarde, in vlees en bloed ‘hier-en-nou’, in die dae van apartheid, maar, ook in die dae van demokrasie en menseregte.

Daar val Snyman se skynaanklag, nl. dat die leer van die liggaamlike opstanding ons ‘hier-en-nou’ sogenaamd onverantwoordelik en ‘passief’ maak heeltemal en totaal plat. Inteendeel, dit laat ons juis nougeset let op hoe ons nou hier lewe teenoor God en ons naaste.

Maar, verder bevestig die liggaamlike opstanding ook dat daar ‘goed en kwaad’ is, dus reg en verkeerd. En dit maak baie seer, as jy onwrikbaar glo dat waarheid ‘subjektief’ is.
Daar is dus woorde, denke en dade wat reg is en daar is dié wat verkeerd is.

Dit beteken daar is en moet iets wees soos ‘n vaste norm of standaard waarvolgens Jesus as regter gaan oordeel. Iets wat ons sal noem ‘objektiewe waarheid’. Nee, nie die grondwet van enige land nie, nie die apartheidsbedeling nie, maar God se Wet vir alle mense, alle tye, alle omstandighede.

En daarom is die ‘liggaamlike’ opstanding ook ‘n getuienis daarvan dat daar een Weg, en een Waarheid en een Lewe is: Jesus Christus, die Seun van God, gebore uit die maagd Maria. Hy en Hy alleen is die weg van verlossing, na die ewige lewe, na die Vader. Geen apartheidsondaar, geen menseregtesondaar, kan na die Vader kom behalwe deur Christus nie.

En as die ‘liggaamlike opstanding’ van al hierdie ‘absolutes’ getuig: een waarheid, een oordeel, een regter, van goed en kwaad, dan is dit ‘n groot struikelblok en probleem vir hulle wat bv.:
- ander gode as die God van Abraham, Isak en Jakob, die Vader van Jesus Christus wil aanbid.
- wat glo al die nie-Christelike gelowe lei ook na die hemel.
- wat in hul kwade homoseksuele of immorele heteroseksuele lewenswyses wil volhard.
- wat God se skeppingsorde ten opsige van man en vrou wil omverwerp.
- wat mense wat die Bybel ‘anders’ lees se grond wil besteel onder die dekmantel van ‘grondhervorming’
- wat aborsiemoord wil goedpraat.

M.a.w. die sogenaamde ‘apartheidsmanier’ (lees gereformeerde-konfessionele manier) van Bybel lees wat al die nuwe SA se ‘nuwe lewensstyle’ veroordeel, dien nié die ‘sosiale belange’ van die feministiese-homoseksuele-androgene ‘gay’ nuwe SA nie … en daarom moet dit ook gaan.
‘n ‘Post-apartheids’ humanistiese ideologie onder die dekmantel van ‘teologie’.

Die nuwe SA, met sy stokoue horingoue humanistiese geloof in die Mens en sy vermoë, sal homself (skuus, haarself) red. Sy (moeder natuur: Sophia?) het nie ‘n (manlike patriargale) Verlosser, Jesus Christus, meer nodig nie. Sy sal haarself verlos, deur van alle ‘geskeidenheid’, fisies én geestelik ontslae te raak. Alle ‘geskeidenheid’ tussen godsdienste, tussen man en vrou, tussen geslagte sal opgehef word.

Die antitese van Gen.3:15 moet ook gaan !

Dit is dan ook g’n wonder dat Unisa se voorvaders niks wou weet van een van die gereformeerd-konfessionele gelowiges se voorvaders, Paulus, nie:
30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 31 omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek. 32 Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor. – Hand.17:30

Die ewigheid en die hier-en-die-nou is op die spel
En, omdat die mens God se oordeel vrees, en die vergifnis in Christus verag, daarom gaan hul oor tot die ontkenning van die finale oordeel wat gaan plaasvind, en wil die hier en nou allesbepalend maak.

Snyman is reg, heeltemal reg as hy sê: “Die gelowige bly blind daarvoor dat dade, ook leesdade gevolge het”

Wat en hoe ons lees, bepaal hoe ons dink, praat, skryf en doen.

Daarom ook Christus se waarskuwende woorde: "36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. 37 Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word." Matt.12

Snyman en almal wat soos hy ‘anders’ lees, wie se leesdaad wat weier om te glo aan die liggaamlike opstanding va Jesus Christus, se ongehoorsame lees het gevolge, nie net gevolge vir die hier-en-nou nie, maar ook vir die ewigheid:
14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; 15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. 16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. - 1 Kor.15

As Christus nie opgewek is nie, dan is die prediking vergeefs. Dan is ons nog in ons sonde, dan kan ons in elk geval niks goeds doen om ons tyd se ‘sosiale belange’ te dien nie. Dan kan daar geen ‘beter’ SA hier-en-nou of in die toekoms wees nie.

Maar, dan beteken dit ook, in die woorde van Snyman: “Dit sien mens duidelik in die gesprekke rondom die geloofsbelydenis oor die liggaamlike opstanding van Jesus. Mense wat laasge-noemde nie kan bely nie, moet uit die Christelike kerke padgee.”

Iemand wat nie glo in die liggaamlike opstanding van Christus hoef nie pad te gee uit die kerk van Christus nie, want sy belydenis van nie-opstanding, is ‘n getuienis dat hy reeds padgegee uit die kerk van Christus.

So iemand, indien hy nog aan die ‘sigbare kerk’ behoort gaan luister ‘tevergeefs’ na prediking.
So iemand maak van God ‘n valse getuie (en van homself ‘n valse profeet).
So iemand se ‘geloof’ is nutteloos, dit is geen ware geloof nie maar 'n ideologie.
So iemand is nog dood in sy sondes.
So iemand is verlore.

So iemand is is die ‘ellendigste van alle mense’, omdat hy ‘net vir hierdie lewe op Christus hoop’

Tragies.

Ja, ons ‘leesdade’ het gevolge. Dit is ‘n saak van lewe en dood.

'n Uitnodiging
Beste prof Snyman en ander wat u denke volg, u as medemense is altyd welkom in Christelike kerke, nie om julle dwalinge en ‘valslike sogenaamde kennis’ te kom versprei nie, maar om die ware evangelie van Christus te kom aanhoor:

Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. … 1 Kor.15:3-5

Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.
- 1 Tim.1:15

Die wysheid van die OT literatuur waarsku vir my en u:

“Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” – Spr.14:12

Ja, as daar geen ‘objektiewe waarheid’ is nie,
As die Bybel nie God se Woord is wat bepaal hoe ons ‘sosiale belange’ God en ons naaste moet dien nie,
As die Bybel nie die bron is wat ons ‘vooronderstellings’ en ‘leestrategie’ toets en bepaal nie,
dan is daar geen rede waarom enige lees van die Bybel aanvaarbaar is of nie.

Dan is ons almal dood in ons sonde en verlore.

Waarom nog enige ‘belange dien’ hier-en-nou, want:

“As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons! “ (1 Kor.15:32)

Niemand ontken die gevaar en beïnvloeding van ons vooronderstellings en ‘sosiale belange’ nie.

Die vraag is egter of ons slagoffers is daarvan, en of ons dit toets, meet en ‘loog’ aan die hand van die Heilige Skrif deur die leiding van die Heilige Gees, in volhardende gebed ?

Die vraag is verder, al is ons baiemaal slagoffers van verkeerde veronderstellings en sosiale belange, of God, die Skepper van hemel en aarde, die Logos, ‘n slagoffer is van die mens se vooronderstellings en sosial belange ?

Bring die redding in Christus nie ook herstel van denke, voorveronderstellings en om ons sosiale belange in die lig van sy Koninkryk te sien nie ?

“En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. My kinders, bewaar julleself van die afgode. Amen.” – 1 Joh.5:20,21

Die Satan het in die begin van die geskiedenis gevra: Is dit so dat God gesê het ?

Vandag vra, mislei hy: Kan die mens God en sy wil ooit ken ?

Snyman vra nie net paradigmaskuif moet maak van
- objektiewe na subjektiewe waarheid nie,
- hy vra dat ons ‘n skuif maak van teologie na antropologie,
- ‘n skuif van die gereformeerde konfessionele geloof na die postmoderne ideologie,
- van die algemene ongetwyfelde geloof van die Christelike kerk van alle eeue soos bely in die Apostoliese Geloofsbelydenis na ‘n eksistensiële humanistiese utopia.

Ek glo ...
Daarteenoor glo ek van harte, dat ons moet bly by die Heilige Skrif soos bely in die gereformeerde belydenis, moet bly by die geloof van ons vadere, met gebreke en al (o.a. Totius en Stoker), en saam met al die kerke en gelowiges deur al die eeue bely, deur sy Gees en Woord:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;

en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;
wat op die derde dag opgestaan het uit die dood;
opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
vanwaar Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Ek glo in die Heilige Gees;
ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die liggaam
en ’n ewige lewe.
Amen.

Groete
Van ‘n ‘gemiddelde gereformeerde dominee en lidmaat’ van die Christelike kerk van alle eeue, wat glo en bely dat Christus vir ons sondes gesterf het en uit die dode opgestaan het.

1 comment:

Bouwe van der Eems said...

Dit lyk my Carltonville doen jou goed. Hierdie is 'n uitstekende stuk en heerlik om te lees.