Wednesday, August 27, 2008

Geboortebeperking

OLDENBURGER, TEUNIS.: Geboortebeperking. Vertaling deur dr. A. Dupont. Amsterdam, H. A. van Bottenburg. Boekbespreking deur prof.dr. JD Du Toit (Totius)

Helaas dat ons oor hierdie onderwerp moet skrywe. Sondes waar van vroeër onder ons net gefluister is, word nou openbaar bespreek, soos een van ons regters in hierdie verband ‘n tyd gelede opgemerk het.

Wee oor ons kinders wat in so ‘n atmosfeer moet grootword !

Ons is nie van plan om die ou tyd te prys en die teenswoordige tyd sleg te maak nie. Die mens is altyd sondaar voor God, en die gelowige moes altyd ten bloede toe stry teen die kwaad wat listig sy siel bekruip. Maar daar is tog verskil tussen wat was en wat nou is.

Sondes van hierdie soort is darem voorheen as sondes gebrandmerk. Nou word dit ‘n teorie waaraan bepaalde middels ten dienste staan. Hierdie sonde moes hom voorheen in ons kringe as sluipgedierte handhaaf. Nou word dit vriendelik getroetel.

In sy sluipgang het hierdie sonde altyddeur die siele verstrik en hete trane van vlymende smart aan die siel ontpers. Maar wat moet ons sê van wat nou gaande is? Hoe gaan ons ons nou verantwoord teenoor die ordinansie van God en die aanwysinge van die Heilige Skrif?

As daar nie meer gekerm kan word nie: ,,Here, daar is swaar teen U gesondig!” — wat sal dan ons toestand wees?

Die Skrif is daar met sy ordinansie dat die mens moet vermenigvuldig op die aarde. Andersyds is die Skrif daar met sy bevel van matigheid en selfbeheersing; sy bevel van onttrekking wanneer veral die gesondheid van die moeder dit eis (vgl. 1 Kor.7:5).

Ons het lank gehuiwer om oor hierdie onderwerp te skrywe. Ons wil geen walglike fariseïsme aanmoedig nie. Ons wil ook nie openbaar wat by menigeen nog ‘n onbekendheid is nie. Hoe minder ons van ,,die dieptes van Satan” weet, des te beter vir ons. Maar ons mag ook ons roeping nie versaak nie.

Hierdie taak word vergemaklik deurdat ons na die boek van dr. Oldenburger kan verwys. Die verskyning van hierdie werk is dan ook die aanleiding dat ons neergeskryf het wat swaar op die harte van ons almal moet druk.

Met beslistheid en onderwerping aan die Skrif gaan hierdie skrywer te werk. Maar juis omdat hy beslis op Christelike standpunt staan, veroordeel hy met krasse woorde hierdie ongeregtigheid wat sy tien duisende, sy honderdduisende verslaan.

Die boek van hierdie Amerikaanse geleerde is in Nederlands vertaal deur dr. Dupont, ‘n Christelike geneesheer wat ook by ons bekend is deur sy mooi geskrif oor Het huwelijk.
Laat ons hier iets meedeel aangaande die ryke inhoud van dr. Oldenburger se boek.

Hoofstuk I handel oor geboortebeperking in ou tye; II oor die geskiedenis van die moderne geboortebeperking; III oor ingewikkelde probleme; IV oor die beweging van die Neo-Malthusiane; V oor die beweging teen die Neo-Malthusianisme; VI oor wat die Bybel leer; VII oor hoe en in watter mate die Bybel op die geboortebeperking invloed uitoefen; VIII oor die onuitvoerbaarheid van die program van geboortebeperking; IX oor ‘n nasionale program vir die herstel van die Amerikaanse huisgesin; X bevat 95 stellinge teen die kunsmatige geboortebeperking.

Om die geskrif te karakteriseer, is dit voldoende om van die 95 stellinge enkeles (verkort) hier oor te skrywe.

1. Die grondslag van al die ander argumente is dat die geboortebeperkingsbeweging teoretiese ateïsme (Godloëning) is.

2. Dit is praktiese ateïsme in sover as die Openbaring (uit die Bybel) uitgelê moet word om te pas by die program van ‘n materialistiese en sensualistiese utilitaristiese filosofie, en die Christelike sedeleer verwerp word as verouderd op elke gebied van ons moderne wêreld waar dit nie ooreenkom met die metodologie van ons huislike, sosiale, industriële en politieke program nie.

5. Omdat die Christendom teen die geboortebeperking is, word dit gedoodverf as ‘n vyand van die mensheid, terwyl die feit geloën word dat dit gedurende 2000 jaar van maatskaplike nut was en hoofsaaklik verantwoordelik is vir die beskawing en die verlossing van die wéreld.

9. Die leer dat ‘n vrou onderdanig moet wees aan haar man, dat hy die hoof is van die gesin, word verwerp teen die wette van die natuur en die duidelike leer van die Bybel in.

10. Die eis dat die vrou van teenswoordig die reg vra om haar verstand, deur God gegee, te gebruik om te beslis hoeveel kinders sy sal hê en wanneer, haal die seksuele regte van die eggenoot se omlaag dat hy feitlik ‘n koppelaar word.

11. Deur hul bewering dat die vrou gemiddeld nie meer as twee kinders moet hê nie, spreek hulle die leer en die praktyke in die Bybel tee en maak van die seksuele verkeer ‘n doel op sigself, wat nie ooreenkomstig die natuur is nie. Dáar is inteendeel die hoofdoel die voortplanting.

14. Die Nasionale Komitee vir Bondswetgewing vir geboortebeperking deel aan ons offisiël mee dat die meeste kerklik georganiseerde groepe van Protestantse en Joodse geloof hulle ten gunste van die geboortebeperkingsbeweging verklaar het en dat ,,die Roomse Kerk die enigste is wat teen die beweging is”, maar ek sê dat van die 210 of meer Protestantse rigtinge minste 75 persent en van die ortodokses almal sonder uitsondering op die hand van die Roomse Kerk is.

15. Die ortodokse kerke glo met dr. Dublin van New York ,,dat ons die opvoeding in geboortebeperking moet uitroei, soos ook al aangegee is deur die offisiële houding van ons (Amerikaanse) regering en veral van Italië en Frankryk”.

16. Ek glo dat hierdie evangelie van geboortebeperking ‘n sisteem is van menslike wanhoop, en met die biskop van Londen hou ons vol dat dit ,,‘n wegwyser is na die hel”.

19. Die sisteem is hierin afgodies dat dit vereer die botviering van die sinlike luste tot die grens van die menslike vermoë, en volhou dat seksuele verkeer van hoe sedelike waarde is, terwyl dit in werklikheid van geringe sedelike waarde is. Dit is ‘n sonde teen al tien gebooie van God — behalwe miskien die vierde, die Sabbatswet, maar selfs dit word verbreek, aangesien die geboortebeperking wetteloosheid en ongehoorsaamheid aan die wette van God kweek, wat uitloop op Sabbatsontheiliging.

21. Wat onder ons sterk en snel in verval geraak het, is die sondebesef.

32. Volgens my het sowel die man wat nie wil werk nie, en die vrou wat geen kinders wil hê nie, die geloof verloën en het erger geword as ‘n ongelowige.

Maar ons ruimte laat ons nie toe om meer aan te haal nie. Ons hoop dat die boek van dr. Oldenburger biddend gelees en bestudeer sal word. Ons leef in ‘n vreeslik gevaarlike tyd. Mag die Here sy volk bewaar ! En mag ons waaksaam wees deur geen middel van verweer ongebruik te laat nie.

Ten slotte gee ons hier nog die gevoele van die beroemde Indiër Gandhi oor hierdie onderwerp. Na aanleiding van die kongres van die Engels-Indiese vereniging vir geboortebeperking het Gandhi in een van die Indiese nuusblaaie [‘n] verklaring gepubliseer.

[nota: in die 1977-uitgawe van Totius se Versamelde Werke, word die aanhaling van Ghandi weggelaat. Hoekom, word daar nie gesê nie. Ek sluit wel die woorde in, wat in die oorspronklike dokument verskyn het – SLC]

"As julle propogandiste van die geboortebeperking, jul leer oor Indië verbrei, sal julle ongetwyfeld 'n aanhang verwerf. Maar waarvoor is die moeite nodig ? Die slegte instinkte het geen advokate of brosjures nodig nie. Die slegte instinkte word die oorsaak van allerande kwaad as die mens nie leer om hulle te beheers nie. As julle praktyke hier net so algemeen sou word as in Europa, sou die gevolge ontsettend wees. Die mense sou aan niks anders meer dink as aan singenot nie. Indië sou 'n land wees van swaksinniges, wat geestelik moreel en liggaamlik skipbreuk gely het. Ek gee toe wat julle nuwe malthusianiste beweer, maar die wetenskaplike verdediging van jul praktyke neem die laaste slagboom weg wat die mense onthou van die kwade. Julle verhef die onsedelikheid tot 'n sogenaamde wetenskaplike stelsel wat die oorsaak van 'n skandelike onsedelikheid is. Ek is daarvan oortuig dat die Europiane weldra sal insien in hoeverre hierdie skynwetenskap hulle bedrieg het. Jul praktyke het veral ingang gevind by die mense van die hoër stande, wat deur oormatige eet, drink en lui-lekker lewe alle wilskrag verloor en die slawe geword het van hul hartstogte.”

Tot sover Gandhi. En hy [Gandhi] is ‘n man wat nie die Christendom as sy geloofsoortuiging bely nie.

“Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer.
,,Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die einde van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor” (Matt.12:41,42). - Die Kerkblad, 7 Augustus 1935.

Bron: Totius se Versamelde Werke, red. Prof.dr. Hertzog Venter, deel 8 (Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1977), p.342-344.

No comments: