Tuesday, December 5, 2006

Verbond en Doop deur prof PJS De Klerk

VERBOND EN DOOP
deur dr. PJS de Klerk
[ Koers, Junie 1946]

Die verband tussen die genadeverbond en die doop is van so 'n ingrypende belang dat dit seker wenslik is om hier nader daarop in te gaan. Aangesien hierdie onderwerp so breed is wil ons slegs op enige aspekte daarvan wys:
1) Wie verseël die doop ?
2) Wat verseël die doop ? en
3) Die eis tot selfondersoek.

I. WIE VERSEËL DIE DOOP ?
Die groot vraag waaroor die stryd vandag gaan is: met wie is die genadeverbond opgerig? Die kring van die verbond word deur die doop bepaal. Om nou uit te maak wie werklik bondelinge is, moet ons teruggaan tot die uitver­kiesing. Ons mag die verbond nooit losmaak van die uitverkiesing nie, daarom moet ons uitgaan van die werk van God in die ewigheid. Christus is vanaf die vrederaad die Borg en Hoof van sy uitverkorenes en Hy is in die genadeverbond die Middelaar van sy uitverkorenes. Christus staan van ewigheid af in verbondsbetrekking tot sy uitverkorenes, en hier in die tyd en die historie staan Hy as Hoof in verbondsbetrekking met hulle. Hieruit blyk dit, dat die genadeverbond geen ander doel het as om die uitverkiesing te verwerklik nie.[i] Die genadeverbond beskryf die weg waarlangs die uitverkorenes tot die saligheid geraak.[ii] Dis nie waar dat die genadeverbond ook met die nie-uitverkorenes gesluit is nie. Daar is mense wat die verskil tussen die uitverkiesing en die genadeverbond daarin soek, dat in die uitverkiesing alleen die uitverkorenes begrepe is en dat in die genadeverbond ook die verworpenes begrepe is. Dit is niks minder as 'n fatale dwaling nie.

Die genadeverbond is volstrek nie on­seker nie, maar dis 'n volstrek sekere verbond wat net die uitverkorenes tot doel het. "Bondgenoot is iemand in dat verbond dan wie genade ontvangt of voor genade bestemd is."[iii] Dis waar, vele ongelowiges lewe hier op aarde saam met die gelowiges in die kring van die verbond, maar hulle is nie bondelinge nie. Augustinus het reeds die onderskeiding ge­maak dat die skyngelowiges wel in die kerk is, maar nie van die kerk nie. Dit geld ook van die genadeverbond. Die geveinsdes is 'wel in die ver­bond', maar nie van die verbond nie. Hulle is wel in foedere maar nie de foedere nie. In werklikheid behoort hulle nie tot die verbond nie. As ons hulle tot die genadeverbond reken dan skei ons die verbond van die uitverkiesing en dan word die verbond kragteloos. Ons erken wel dat die verbond 'n uitwendige en 'n inwendige kant het. Ons erken dat die sigbare uitwendige verskyning nie heeltemal die innerlike geestelike realiteit dek nie, want almal wat uit Israel is, is nog nie Israel nie.
Hulle wat val onder die uitwendige sy van die verbond staan nie persoonlike betrekking met God in Christus nie. In werklikheid het hulle dan ook nie reg op die sakramente nie, want die sakramente is geen seëls vir uiterlike meelopers nie, maar hulle is seëls van die regverdigheid van die geloof.

"Recht op den doop hebben alleen die kinderen, welke in het verbond begrepen zijn, en uit wie, uit hoofde van dit verbond, God het genadeleven werken wil".[iv] Op die vraag wie die bondelinge in die verbond is, antwoord Dr. Kramer: "Dat zijn degenen die levende lidmaten zjjn van Christus, dat zijn zij die door het innerlijke werk van den Heiligen Geest uit de duisternis zijn overgezet in het licht, dat zijn zij m.a.w, de leden van de onzichtbare kerk."[v] En Prof. G. Ch. Aalders bevestig dit as Hy sê dat die verbond met Christus gesluit is en in Hom met almal wat in Hom begrepe is. "Er kan derhalve geen twijfel aan bestaan of de deelgenooten van het genadeverbond zijn de uitverkorenen".[vi] As ons bely dat ons kinders in Christus begrepe is, dan bely ons dat hulle ook kinders van die Here is. Ons bely dit kragtens die verbondsbelofte.

Hierdie Geref. opvatting word, helaas, op velerlei wyse bestry. Vol­gens ds.Woelderink[vii] kan mens 'n wesenlike bondeling wees, sonder om die versoende gemeenskap met God deur Christus te besit. Daar is mense aan wie die belofte geskenk is, maar hulle kom nie tot die geloof en verkry dan ook nie die vervulling van die belofte nie. Hierdie mense is, volgens ds. Woelderink dan ook net so wesenlik in die verbond begryp als hulle wat die verbondsbelofte gelowig aanvaar het. Dis dan ook meer of min die standpunt van prof. Schilder en sy volgelinge. Hierdie groep meen dat hulle moet uitgaan van wat duidelik in die Skrif geopen­ baar is "als door God te zijn gewerkt in den tijd. In den weg van het verbond komt God met zijn beloften tot allen die onder het verbond geboren worden op volkomen dezelfde wijze. Zij allen hebben dezelfde vaste beloften. Dat heil komt den bondelingen toe niet rechtstreeks en onvoorwaardelijk, maar op voorwaarde van geloof en bekering."[viii]

“Die kinderen der geloovigen zijn allen in Gods verbond en gemeente begre­pen."[ix] Dit is die standpunt van manne soos prof. Greydanus,[x] ds. Holwerda, ds. Meulink e.a., asook van prof. Heyns. Hy sê: "De goederen (weldaden van het verbond) worden geschonken aan alle kinderen der geloovigen, want die allen zijn bondelingen; dus ook aan hen die niet uitverkoren zijn."[xi] God skenk die weldade van die verbond aan alle kinders van die gelowiges en hulle moet dit deur die geloof vir hulle­ self toeëien of deelagtig maak.

Ons kan met die weerlegging hier kort wees. Die verbond word hier losgemaak van die uitverkiesing en gevolglik veruitwendig. Hier word ernstig afbreuk gedoen aan die genade-karakter van die verbond van God. "Het verbond is hier niet de verzoende betrekking, die er is in Christus tussen God en zijn volk."[xii] Ds. Spier wys daarop dat die verbond gefundeer is "in Gods genadetrouw, niet in onze trouw." Hier kan ons slegs verwys na Jer.31 en Hebr.8, waar die Here sê dat Hy in die nuwe verbond sy wet in hulle binneste sal gee en in hulle hart sal skrywe. Hy wat nie uitverkore en dus nie gelowig is nie, het geen reg op Gods belofte nie. "Want dat zou beteekenen dat er buiten Christus om eenig recht was op Gods genade."[xiii] Prof. Schilder druk dit nogal kras uit. Hy meen dat ook nie-uitverkorenes kragtens deelgenootskap aan die verbond, reg het “op de beloften van de rechtvaardigmaking door Christus bloed.”[xiv]

Buite Christus om is daar dus reg op genade, op regverdigmaking. En erger nog. Hy skrywe dat die verbond "de Woord-poort is, waardoor de Heere hen allen, uitverkorenen en niet uitverkorenen, doet binnengaan."[xv]

Volgens die apostel Paulus is nie almal Israel wat uit Israel is nie. Daar is kinders van die vlees en daar is kinders van die belofte. In Isak sal Abraham se nageslag genoem word. "Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar, die kinders van die belofte word gereken as die nageslag," Rom.9:8. In Gal.4:21-31 werk Paulus dit nader uit. In hulle uitsluitende vertroue op Christus en op die volkomenheid van sy werk kom hulle net soos Isak uit as belofte­kinders.

Op grond hiervan moet ons hierdie uitwendige verbonds- en belofteleer afwys.

II. WAT VERSEËL DIE DOOP ?
Volgens ons Heidelbergse Kategismus verseël die doop die vergewing van sondes uit genade en "om deur die HeiIige Gees vernuut en geheilig te wees." (Vr.70). En in die dankgebed van die doopsformulier vir kinders dank ons God "dat Hy ons en ons kinders deur die bloed van sy liewe Seun Jesus Christus tot lidmate van sy eniggebore Seun en daar­deur tot Sy kinders aangeneem, het."

Volgens hierdie opvatting en volgens die Heilige Skrif is die doop 'n teken en seël van die vergewing en van die afwassing van die sondes en van die inplanting in Christus. Die ouers moet volgens die doopsformulier antwoord dat hulle glo dat hulle kinders "in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees." Oor die woorde "in Christus geheilig" het daar 'n hewige stryd ontstaan.[xvi]

Volgens prof. Schilder en sy volgelinge beteken hierdie woorde: reg te hê op die beloftes van die regverdigmaking deur die bloed van Christus, sonder dat daarmee uitge­spreek is dat die bondeling werklik deur die bloed van Christus gewas is. Heiligheid beteken hier dan geen onderwerpelike heiligheid op grond van wedergeboorte nie. "Neen, ze is een verbondsheiligheid welke gegeven wordt door het opgenomen worden in het genadeverbond."[xvii]
Dit is dus slegs uitwendige heiligheid. Dus verbondsheiligheid. "Daarmee wordt niet bedoeld de wederbarende werking Gods in den zondaar, maar het moet ook niet worden opgevat als slechts te zijn: heilig in den zin van afgezonderd. … Het is het positieve: in Christus geheiligd zijn; dat is: de beloften hebben die in Christus vast zijn."[xviii]

Hierteenoor beweer ons dat "geheilig" hier nie anders kan geneem word as reël, inwendig, onderwerplik. Hier word niks anders bedoel as inwendige heiliging nie. Hier staan nie slegs dat ons kinders geheilig is nie, nee, hier staan dat hulle in Christus geheilig is. Dit blyk ook uit die onmiddellike verband. Die ouers bely in die eerste doopvraag dat hulle kinders in sonde gebore is: Hierdie woorde moet in reële sin opgevat word. Dis nie iets buite, maar in die kind. Hoe kan hierteenoor nou beweer word dat ons kinders uitwendig geheilig is ?
Ons doopsformulier stel hom op die standpunt van die realiteit van die goddelike beloftes. Dis nie iets wat later moet gebeur nie, maar dis beloftes wat aanvanklik verwerklik is. Die doop verseël dus reële genade, inwendige heiligheid, wederge­boorte. Dit word deur die ander rigting ontken. Hulle beweer dat die doop slegs die belofte van die verbond verseël.[xix] Dit wil nog nie sê dat die vervulling van die beloftes in die verbond en in die doop ook reeds veronderstel word nie. Nee, hulle ken aan die belofte van die verbond in alle opsigte 'n kondisionele karakter toe, d.w.s. dit word afhanklik gestel van die geloof.
"De belofte des heils komt, als ze ons in het verbond wordt geopenbaard, niet anders tot ons dan in condi­tioneele vorm, d.i. met bevel van geloof en bekering."[xx] Die doop verseël, volgens hierdie rigting, dus slegs die belofte van die verbond. Dit moet deur die kind as hy opgroei deur die geloof aanvaar word. "Wanneer zij gelooven dan werkt de doop hun heil. Doen zij dat niet dan werkt de doop hun onheil."[xxi]

Volgens hierdie standpunt het die verbond slegs 'n uitwendige kondisionele betekenis. Die beloftes van die verbond word kondisioneel gemaak. God bied aan alle kinders van die verbond genade en versoening en verseël daardie aanbod in die doop.

Die dwaling lê hier in die verkeerde opvatting van die begrip belofte. Dit kan aandui die goddelike heilstoesegging en dan weer die vervulling van daardie toesegging of die beloofde goed in daardie toesegging.[xxii] Belofte staan so dikwels gelyk aan die vervulling van die belofte, Hand. 1:4. Die verbond tog lê metterdaad 'n feitlike band tussen God en mens, waardeur nie slegs die toesegging maar die besit van die versoende gemeenskap met God in Christus geskenk word. Hierdie belofte is nie bedoel as 'n toesegging, wat aanvanklik nog wel nie vervul kan wees nie, en eers later vervul sal word. Nee, die belofte is altans in beginsel 'n reeds verwesenlikte belofte. In die genadeverbond skenk God die belofte, maar Hy werk ook tegelykertyd met sy Gees so in die hart dat die eis vervul word.
Die belofte van God in die verbond is nooit kondisioneel, afhanklik van geloof nie. Dis volkome waar dat die beloftes deur die geloof aanvaar moet word, maar God werk die geloof in die harte van die bonde­ling, waardeur hulle die beloftes aanvaar. Ons moet oppas om nie te sterk die nadruk op die geloof as voorwaarde te lê nie, "terwyl het geloof als gave op den achtergrond treedt."[xxiii]

Ons mag die swaartepunt van wat God is nie verskuiwe na wat ons te doen het nie. Hierdie ongerefor­meerde rigting insake die verbondsleer gee aan die verbond 'n wettiese karakter. Dr. H. N. Ridderbos noem dit dan ook 'n neonomistiese ver­bondskollektivisme.[xxiv] Die geloof kom, volgens hierdie rigting, slegs as voorwaarde en eis voor en nie as kenmerk en gawe nie. Die geloof word deur die belofte nie gewaarborg nie. Dit behoort nie noodwendig tot die verbondsbetrekking waarin ons tot God staan nie. Die vervulling van die belofte word ondergeskik aan die geloof gemaak. Die belofte kan deur ongeloof weerstaan word. Hierteenoor leer Paulus die vast­heid en die onvoorwaardelikheid van die belofte, Hebr.4:1; 8:6-13.
Die vervulling van die belofte is nie afhanklik van die geloof nie, maar die geloof is afhanklik van die belofte. Die verbond tog bestaan juis daarin, dat dit die inwendige genade skenk. Daarop wys die dankgebed van ons doopsformulier. "Wij kunnen hierin niets anders lezen, dan dat de doop ook de inwendige genade (beginnende bij de wedergeboorte) bezegelt en bekrachtigt."[xxv]
Die doop as sakrament is tog 'n beseëling aan hulle wat die beloofde aanvanklik reeds ontvang het. Abraham het die seël van Gods verbond reeds ontvang, Rom.4:11. Die besnydenis was vir hom 'n beseëling van Gods belofte, waaraan hy deur die geloof reeds deel gekry het, 'n verseëling van die geregtigheid van die geloof.
As ons kinders dan in Christus geheilig is, dan is die vraag: wat veronderstel die doop dan wel as noodsaaklik ? Die antwoord is dat die kerk na die oordeel van liefde die kinders van die gelowiges vir werklike verbondskinders hou. Die kerk reken dat hulle uitverkore, dat hulle wedergebore, dat hulle gewas is in die bloed van Christus, en in Hom geheilig is. "Die gereformeerden veronderstelden naar het oordeel der liefde, zoolang het tegendeel niet bleek, van elk kind dat gedoopt werd dat het uitverkoren en wedergeboren was."[xxvi]
Daarom word die doop dan ook die bad van die wedergeboorte genoem, Tit.3:5. Aan ons kinders is die Heilige Gees toegesê. Kan dit gebeur sonder wedergeboorte ? Hou ons dit nie vas nie, dan word die wedergeboorte tot 'n kondisionele verbonds­belofte gemaak, wat baie gevaarlik is. Die verbondsbelofte kan dan so gemaklik daartoe lei, dat die verbond veruitwendig word en in kondisio­nele sin opgevat word. Ons mag die verbond nie van die uitverkiesing skei nie. Genade is nie afhanklik van ons menslike wil nie. Genade wat alleen die moontlikheid van redding gee, maar nie self die redding skenk nie, kan ons siel nie troos nie. Met die kondisionele verbond raak ons verseild in Remonstrantse waters. Die Remonstrante tog leer dat die doop alleen die tekens en seël is, wat God die mens aanbied op voorwaarde van geloof en bekering.

III. DIE EIS TOT SELFONDERSOEK
Hieroor kan ons kort wees. Dit word beweer dat ons opvatting van verbond en doop die eis tot selfbeproewing verslap. As die belofte kon­disioneel gestel word dan is die eis tot selfondersoek baie sterk, so word dit beweer. Hulle meen dat hulle met 'n beroep op die verbondsbelofte 'n ­kollektiewe sekerheid vir al die kinders van die verbond kan kry. Hierteen antwoord dr. H.N. Ridderbos[xxvii] as volg: As ons die verbondsbelofte kondisioneel stel dan kan ons aan die belofte geen sekerheid ontleen nie. Die egte sekerheid wat daar in die verbond en die belofte lê word dan weggeneem. Want die sekerheid rus juis in die onvoorwaardelikheid van die verbond, en in die wetenskap dat die geloof in strikte sin geen voorwaarde nie, maar 'n gawe van die verbond is.
Ons opvatting gee waarlik sekerheid, maar dit verskerp dan ook die eis tot selfondersoek. Die verbond verplig ons tot 'n nuwe gehoorsaam­heid. Dit handhaaf ten volle ons persoonlike selfstandigheid en verant­woordelikheid. As ons waarlik verseël is as kinders van God, dan kan daar geen valse gerustheid by ons wees nie. Die verbond bied nie alleen die genade aan nie, maar skenk dit. En op grond van hierdie ontvange genade kom die eis tot ons om in geloof en bekering die nuwe lewe te openbaar.

As die kerk op grond van die verbond en die doop iemand vir weder­gebore hou, dan wil dit nog nie sê, dat hy tog 'n erfgenaam van die ryk van God is ook al kom hy nie tot bekering nie. Nee, dis net omgekeerd. As die kerk iemand vir wedergebore hou, dan het die kerk die reg om van so iemand te verlang, dat uit sy geloof en bekering moet blyk dat hy waarlik 'n wedergeborene is. "Hoe hooger en heerlijker de eeretitel is, die de kerk u schenkt, hoe ernstiger en grooter uw verantwoordelijkheid is, of ge metterdaad aan dien eeretitel beantwoordt. De verbondsbe­schouwing, wel verre van dien eisch tot zelfbeproeving uit te sluiten, verscherpt dien eisch juist."[xxviii]
Dis 'n misbruik van die verbondsleer as daar gedurig op die kansel geswyg word oor die "eisch van bekeering." Die indruk mag nooit geskep word dat wie gedoop is vanself salig word nie. Hierdie opvatting is nie 'n uitvloeisel van die verbondsleer nie, maar 'n verdraaiing daarvan. Die apostels het die gemeentelede aangespreek as geheiligdes in Jesus Christus, as geroepe heiliges, en tog het hy gedurig aangedring op selfbeproewing en selfondersoek, 2 Kor.13:5.
Kyk ook Deut. 10:16. Elke verbondskind moet leer om te verstaan dat hy aan God toebehoort en nie aan die wêreld nie. God het hom deur die doop beseël dat hy van die sondige wereld afgesonder is. En selfs wanneer 'n verbondskind afdwaal moet die eis tot bekering altyd weer in hierdie verbondsrelasie sy aanknopingspunt soek.

Die Geref. verbonds­leer eis dat elke kind van die verbond op een of ander tyd tot 'n besliste keuse soos Moses moet kom. Die verbond lê beslag op ons ganse lewe. Dit bind ons aan God met 'n liefde sterker as die dood. Die 13de uit­spraak van die sinode van die Geref. Kerke, wat in 1945 in Utrecht vergader het, lui dan ook "dat een ieder zichzelf ernstig heeft te onder­zoeken; of hij wel is, waarvoor de kerk hem houdt."

[i] Dr. H. H. Kuyper - Hamabdil, bl.23.
[ii] Dr. H. Bavinck – Geref. Dogmatiek 3 III, bl.241.
[iii] Dr. A. Kuyper – Uit het Woord, V, bl.180.
[iv] Dr. G. Kramer - Het Verband van Doop en Wedergeboorte, bl.51.
[v] t.a.p. bl. 159.
[vi] Het Verbond Gods, bl.193.
[vii] Het Doopsformulier, veral bl.116,145,161,171 v.v.
[viii] G. Rietkerk – “Het Conflict in de Geref. Kerken," bl.41.
[ix] Dr. C. Veenhof - In den Chaos, bl.35.
[x] Actueele Vragen in verband met de Wedergeboorte, bl.15,16.
[xi] Gereformeerde Geloofsleer, bl.131,132.
[xii] Ds.H.J. Spier – Het Mysterie van het Verbond. bl.30.
[xiii] t.a.p., bl.32.
[xiv] "Looze Kalk,"Afl. 7.3 Febr., 1945, bl.3.
[xv] t.a.p., Afl. 2, bl.4,5.
[xvi] Ons verwys hier na die breedvoerige uiteensetting van Dr. B. Wielenga in sy Ons Doopsformulier, bl.265-297.
[xvii] Ds. C. Veenhof - In den Chaos, bl.51.
[xviii] G. Rietkerk - Het Conflict in de Geref. Kerken, bl.38,39.
[xix] t.a.p.,. bl.48.
[xx] Ds. H. Meulink - Kerkreformatie, bl.12. G. Rietkerk – Het Conflict, bl.41.
[xxi] Dr. S. Greydanus - De Zestien Uitspraken van de Synode te Utrecht, 1945, bl.31.
[xxii] Dr. H.N. Ridderbos - De Belofte van het Genadeverbond, bl.8.
[xxiii] Ds. J.C. Brussaard - De H. Geest en de Genademiddelen, bl.28.
[xxiv] De Beloften van het Genadeverbond, bl.17.
[xxv] Dr H.N. Ridderbos a.w., bl.24.
[xxvi] Dr. G. Kramer – Het Verband van Doop en Wedergeboorte, bl. 249.
[xxvii] De Belofte van het Genadeverbond, bl.30.
[xxviii] Dr. H.H. Kuyper - Hamabdil, bl.177.

No comments: