Wednesday, December 13, 2006

DIE DORDTSE LEERREËLS: BESTRY EN BEVESTIG deur ds. Ph Snyman

DIE DORDTSE LEERREËLS: BESTRY EN BEVESTIG[1]

deur ds. Ph Snyman[2]

Die stryd om die deel van die geopenbaarde waarheid wat in die Dordtse Leerreëls bely word, duur al baie eeue lank. Hierdie refe­raat wil ná 'n kort oorsig oor die pogings tot ondermyning van die Skrifwaarheid aangaande die predestinasie aantoon dat in Romeine 9 nie alleen die uitverkiesing nie, maar ook die verwerping onom­wonde geleer word.

I. Die bestryding van die predestinasieleer deur die remon­strante

Om selfs maar net 'n kort historiese oorsig te gee van die stryd wat uitgeloop het op die Dordtse Sinode van 1618/19, val heeltemal buite die bestek van hierdie referaat. Daarom volstaan ons met 'n alge­mene tipering van die stryd aan die hand van die werke van ds. J. G. Feenstra[i] en dr. L. H. Wagenaar[ii]:

In Nederland het die Reformasie 'n Gereformeerde karakter ge­dra. Dit het baie sterk onder die invloed van Calvyn gestaan. Dit blyk bv. uit die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus. Nie lank na die Reformasie nie het dwalinge egter die kop begin uitsteek binne die kerk van die Reformasie.

Dieselfde lyn wat loop oor Arius (4e eeu), Pelagius (5e eeu) en Socinus (eerste helfte van die 16e eeu) het weer sigbaar begin word. Dieselfde hoog­moed van die menslike hart, die begeerte na selfverlossing, die ontkenning van die absolute verdorwenheid van die sondaar en die strewe om die mens op die troon te plaas, is via die Ariane, die Semi-Pelagiane e.a. voortgesit deur die Remonstrante.

Die ander lyn loop oor Athanasius (4e eeu), Augustinus (4e en 5e eeu), Calvyn en Guido du Bres na die Gereformeerdes wat op die Dordtse Sinode standpunt ingeneem het teenoor die Remonstrante.

Die botsende leergeskille onder Nederlandse Gereformeerde teoloë aan die einde van die 16e en die begin van die 17e eeu sou alleen op 'n algemene sinode opgelos kon word. Diegene wat be­sware gehad het teen sekere uitsprake in die bestaande belydenis­skrifte[iii] was bereid om 'n sinode oor die saak te hou, mits so 'n sinode die Belydenis sou hersien.

Volgens die beswaardes was die Belydenis slegs voorlopig vasgestel en daarom kon die sinode dit wysig en finaal vasstel. Onder leiding van Utenbogaert word die sogenaamde "Remon­strantie" in 1610 opgestel:

- Artikel 1 van die “Remonstransie” handel oor die predestinasie. Daaruit blyk dat die Remonstrante nog vasge­hou het aan 'n "eeuwig en onveranderlijk besluit" voor die grond­legging van die wêreld, hoewel dit begin deurskemer dat hulle die uitverkiesing op 'n vooruitgesiene geloof laat rus.[iv]

- Artikel 2 van die Remonstransie bely egter die algemene versoening, as daar gesê word "dat krachtens Gods eeuwig besluit Jezus Christus, de Zaligmaker der wereld, voor ieder mensch gestorven is, alzoo dat Hij voor allen door den kruisdood de verzoening en de vergeving der zonden verworven heeft, alzoo nochtans dat niemand de ver­geving der zonden werkelijk geniet dan de geloovige".

En dan be­roep hulle hul vir die algemene versoening op 1 Joh. 2 : 2.[v] Hier word dus blykbaar geleer dat die moontlikheid van skuldvergiffenis vir almal verwerf is, maar dat die werklikheid daarvan alleen die deel van die gelowiges is.

- Artikel 3, oor die noodsaaklikheid van die wedergeboorte, lewer geen probleme op nie.

- Artikel 4 roep egter ernstige bedenkinge na vore wanneer daar van die genadewerking van God gesê word: "Maar wat de manier van de werking dier genade aangaat, die is niet on­weerstaanlijk; want daar staat van vele geschreven: dat zij den Heiligen Geest wederstaan hebben, Hand. 7 en elders op vele plaatsen".[vi] Van hierdie dwaling sê Wagenaar: "Als de mensch Gods genade, ook ter wedergeboorte en vernieuwing kan weerstaan of niet weerstaan naar zijn eigen welbehagen, dan moet er toch iets onaf­hankelijks in den mensch zijn, door welks medewerking die genade­werking slagen kan; door welks tegenwerking alle Gods genade­pogen mislukt . . . Hier scheen de religie God-Zelf als God te verliezen en het eigen ik afgodisch te klimmen op het altaar".[vii]

- In Artikel 5 van die Remonstransie word die moontlikheid van die afval van die gelowiges geleer.

Ds. J. G. Feenstra gee die volgende kort samevatting van die dwalinge van die Remonstrante[viii]:

1. Die verkiesing rus op 'n vooruitgesiene geloof. God het naam­lik hulle uitverkies van wie Hy geweet het dat hulle sou glo en tewens in daardie geloof sou volhard. Sy verkiesing rus dus alleen op sy voorwetenskap. Die een mens is waardiger as die ander, die een volk is waardiger as die ander volk. Daarom is daar voorwaardes vir die uitverkiesing. En daarom mag daar eintlik nie van verwerping gespreek word nie.

2. Jesus Christus het vir almal gesterf, maar só dat slegs die gelowiges die vergewing van sonde kan geniet. Christus het dus nie die werklikheid nie, maar die moontlikheid tot verlossing gegee. Ons moet dan die moontlikheid tot werklikheid maak. Ons moet die kanse aangryp wat God ons gee, want Christus het nie slegs vir die uit­verkorenes gesterf nie.

3. Die geloof is in die sin 'n gawe van God dat dit aan die vrye wil van die mens deur God aangebied word. God en mens werk hier saam. Die genade help die mens, maar dit hang van die mens af of hy sal glo of nie.

4. Die mens kan deur hierdie medewerkende genade van God glo, maar hy kan ook die werking van die Here teëstaan. Hy kan meewerk en teenwerk. Hy kan van nature wel honger en dors na die geregtigheid, maar hy kan sy wedergeboorte ook verhinder, sodat dit in sy eie mag bly om wedergebore te word of nie.

5. Die volharding van die heiliges is nie 'n vrug van die verkiesing en van die werk van Christus nie, maar 'n voorwaarde wat die mens self moet volbring. Daarom hang dit van die mens af of hy sal volhard en of hy sal uitval van die saligheid en vir ewig verlore sal gaan.

In een sin saamgevat, kom die dwaling van die Remonstrante hierop neer: God het die reddingstou uitgewerk en die mens kan dit self aangryp; los hy dit weer, dan kom hy om.

In die Dordtse Leerreëls het ons nou die antwoord of die beslis­sing van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande (te Dordrecht 1618/19) oor die vyf leer­stellinge van die Remonstrante. In sy antwoord op die dwalinge van die Remonstrante het genoemde Sinode onomwonde gestel wat die Skrif leer aangaande die leerstukke wat onder diskussie was.

In die tetiese deel van die D.L. word nie op 'n abstrakte en deterministiese wyse gehandel oor die uitverkiesing nie. Inteendeel, die Skrifwaarheid word selfs prakties toegepas op die lewe en die stryd van die gelowiges. Daar word bv. ook gehandel oor sake soos geloofsekerheid, oor twyfelvrae wat die gelowige mag kwel, oor die dood van klein kindertjies van gelowiges, oor die stryd teen die bose natuur. Dit gaan in die belydenisskrif nie slegs oor die predes­tinasie nie, maar ook oor geloof, wedergeboorte, bekering, volharding, heiliging, in samehang met die werk van Christus tot verlossing van die uitverkorenes. Daarom bly hierdie belydenisskrif tot in die huidige tyd aktueel.

II. Die moderne bestryding van die predestinasieleer

Die moderne bestryding van die Bybelse predestinasieleer is ingelei deur Karl Barth:

"Wat Barth over de verkiezing naar voren brengt, kunnen wij zien als een groots opgezette poging om een wereld van misverstand te doorbreken en de moderne mens op geheel nieuwe wijze met het evangelie van Gods vrije genadige verkiezing in aanraking te brengen. Barth ziet er daarbij niet tegen op, om de klas­sieke leer van de praedestinatie, zoals deze bijvoorbeeld door Calvijn vertolkt is, af te wijzen en een eigen weg te gaan".[ix]

By Barth is die verkiesing kern en hoofsaak van die evangelie. Dit is die sentrale Woord van God.[x] God is die verkiesende God. Hy was dit nie net nie. Hy is dit steeds weer. Hierdie verkiesende God is Jesus Christus. En Hy is self ook die uitverkore mens. Barth wil geen woord oor die uitverkiesing spreek sonder dat hy oor Jesus Christus spreek nie.[xi] God se uitverkiesing is steeds 'n daad van sy genade, 'n handeling van God se eindelose barmhartigheid in Christus met ons.

Hier kom dit volgens Spier veral neer op: "Barth ontkent ten stelligste, dat er een eeuwig besluit Gods is, waarin Hij het eeuwig wel of wee van alle mensen van te voren in Zijn eeuwigheid heeft vastgesteld".[xii]

Terwyl God vir die mens die verkiesing gekies het, het Hy vir Homself, vir Christus, die verwerping en die verdoemenis gekies. God het Self in Christus aan die kruis die verworpene vir ons geword. Dit beteken dat predestinasie vir ons nou geheel en uitsluitend die geloof is dat God die mens nie verwerp nie.[xiii]

Barth se leer is byna iets soos die algemene versoening wat die Remonstrante geleer het. Tog sê hy nie dat alle mense salig word nie. Volgens hom moet ons die wêreld ingaan met hierdie boodskap aan elke mens: "Jy is uitverkies! In Christus het God vir jou gekies! Die verwerping is deur Jesus Christus vir jou oorwin!" Alleen as hierdie boodskap nie geglo word nie, kom 'n mens daartoe om sy verkiesing te verwerp: "Dan gebeurt het, dat in Christus uitverkoren mensen hun verkiezing tegenstaan en tenslotte, doordat zij hun ver­kiezing afwijzen, verworpenen worden".[xiv]

So val uiteindelik die be­slissing nie meer by God nie, maar by die mens, naamlik in sy geloof. Daarom wil Barth ook niks weet van 'n geslote getal uitverkorenes of van 'n vaste besluit van God nie. God se uitverkiesing kan elke oom­blik oorslaan in verwerping, as die mens naamlik ongelowig word.

Dit kortliks wat Barth se standpunt betref.

In die jongste tyd vermenigvuldig die getal teoloë wat allerlei vraagtekens agter die Dordtse Leerreëls, en daarmee agter die By­belse predestinasieleer, begin plaas.

Van Teylingen wys in sy bros­jure "Tussentijdse Balans"[xv] daarop dat dit mettertyd duidelik ge­word het dat Kuyper en Bavinck nie meer die onbestrede outoriteite in die gereformeerde wêreld was nie. In die nuwe situasie het 'n reeks nuwe probleme na vore gekom, wat om 'n antwoord begin roep het wat binne die "oude kaders" nie te vinde was nie.[xvi] Wat in die nuwe tyd in die Gereformeerde wêreld plaasvind, sien Van Teylingen as 'n proses van "herorientatie"[xvii] en van distansiëring van die skolastiek, selfs van ortodokse skolastiek.[xviii] Hy sê in hierdie verband o.a.:

"Ik denk in 't bizonder aan de studie over de verkiezing Gods, waarin met die uiterste ingetogenheid over de leer van de eeuwige besluiten Gods wordt gesproken, het neutrale speculeren over verkiezing en verwerping wordt bestreden en de fatale paralleli­sering van die twee in het besluit Gods wordt afgewezen".[xix]

Voorts wys Van Teylingen daarop dat in die diskussie wat on­der Nederlandse teoloë ontstaan het i.v.m. die predestinasie "enkele krasse formuleringen in de Dordtse Leerregels er niet zonder kleer­scheuren afkomen".[xx] Volgens hom kan die groep teoloë in Neder­land wat beswaar het teen bepaalde formuleringe van die D.L., maar nie teen die inhoud en die "intentie" daarvan nie, nie oor dieselfde kam geskeer word met die voorstanders van die quatenus-standpunt nie.[xxi]

Dr. M. J. Arntzen is baie skerp in sy beoordeling van die huidige stryd op leerstellige gebied onder Nederlandse teoloe.[xxii] Hy bestem­pel 'n deel van die diskussie i.v.m. die D.L. as "openlijk kritiek... op hetgeen het hart van ons belijden is, op de leer van verkiezing en verwerping en op de absolute onfeilbaarheid van de bijbel".[xxiii]

In hierdie verband sê hy: "Onze theologen moeten hun krachten veel meer gebruiken tot verdedigen van het gereformeerd belijden, dan in het stelselmatig ondermijnen ervan".[xxiv] Hy skryf oor die kritiek wat in die Gereformeerde Kerke met altyd groter vrymoedigheid gelewer word op die Dordtse Leerreëls, en dit nie slegs op bykom­stighede nie, maar op die sentrale tema van verkiesing en verwerping.

Prof. K. Dijk wys in sy brosjure "Koerswijziging in onze kerken?" op verantwoorde wyse daarop dat die leer van verwerping deur baie teoloë min of meer ontken word. Daar word betoog dat die Heilige Skrif ons niks leer van 'n besluit oor die verwerping nie. Artikel 16 van die N.G.B. en hfst. I, artikels 15 en 16 van die D.L. vind volgens sommige teoloë geen steun in die Skrif nie.

Lees 'n mens wat dr. G. C. Berkouwer sê in sy "Dogmatische Studien" oor die verkiesing en verwerping, dan is dit duidelik dat daar op meer as een punt ernstige rede is om sy gebondenheid aan die D.L. te bevraagteken. Hy stel op kenmerkende wyse sy besware in hierdie verband meesal in die vorm van vrae. Nadat hy bv. tereg daarop gewys het dat volgens die D.L. die verkiesing die fontein is van alle saligmakende goed waaruit die geloof, ens., as vrugte voort­vloei en dat God en sy raad nie gesien word as die oorsaak of oor­sprong van die sonde en die ongeloof nie, sê hy:

"Er is nu echter een uitspraak, die hiermee in strijd schijnt te zijn, nl. wanneer de canones direct na het aanwijzen van de oorzaak of schuld van onge­loof in de mens, schrijven: Dat God sommigen in den tijd met het geloof begiftigt, sommigen niet begiftigt, komt voort uit zijn eeuwig besluit".[xxv]

Berkouwer stel hier dus sagkens sy beswaar teen die aangehaalde sin in die D.L., hfst. I, art. 6. Dat hy wel beswaar het teen die uit­drukking, blyk duidelik uit die volgende woorde:

"In deze strijd (nl. oor die verwerping - Ph. S.) speelde vooral een rol het feit, dat in de Schrift telkens van Gods verwerpen gehandeld word als een Goddelijk antwoord in de geschiedenis, een reactie op menselijke schuld en ongehoorsaamheid. In zulke uitspraken is niet Gods verwerping ‘oorzaak' van de schuld, maar roept de schuld het antwoord der verwerping op".[xxvi]

Dit is dus duidelik dat selfs 'n teoloog soos Berkouwer se opvatting in stryd is met die D.L., hfst. I, art. 6, omdat hy die verwerping nie sien as deel van God se besluit in die ewigheid nie, maar slegs as 'n handeling van God in die tyd.

III. Die bestryding van die Dordtse Leerreëls in die jongste tyd hang ons insiens saam met die hele klemverskuiwing vanaf God na die mens in die nuwe teologie

In die versamelwerk "Revolte in de Theologie", onder redaksie van dr. G. C. Berkouwer en dr. A. S. van der Woude, word die soge­naamde "vernuwingsteologie"[xxvii] onder die soeklig geplaas. Daaruit is dit vir die objektiewe leser duidelik dat daar inderdaad 'n revolte, 'n opstand of oproer, aan die gang is op die erf van die teologie. Hierdie opstand op teologiese erf is onteenseglik tot 'n groot mate 'n opstand teen God en sy Woord. In die "teologie" van vernuwings­teoloe soos Harvey Cox, Paul van Buren en J. A. T. Robinson word God neergehaal uit die sentrum en ontvang die mens die grootste belangstelling en ereplek.

Die vernuwingsteoloe self sien die opstand natuurlik nie as 'n opstand teen God nie. Dr. G. C. van Niftrik vra: Waarteen "revo­leert" die nuwe teologie? En dan antwoord hy: "Zij revoleert tegen een absolutistische dogmatiek",[xxviii] teen die piëtisties godsdiens, teen die teïsme, ontologie en metafisika, teen die "jenseits", teen die objektiwiteit van die heil, teen die onverstaanbaarheid van die predi­king en teen die "van-de-wereld-afgewend-staan" van baie Christene. "Zij wil de saecularisering van leven en denken restloos erkennen".[xxix]

Dit gaan in die nuwe teologie sogenaamd om die ontkenning van die oorgelewerde Godsvoorstelling. Dit is die bedoeling van die vernuwingsteoloë. Dit is egter duidelik dat dit al meer en meer neer­kom op 'n ontkenning van God Self soos Hy Hom in die Heilige Skrif geopenbaar het. Wanneer dr. W. H. Velema in die boek "Nieuwe Wegen Oude Sporen" handel oor die "God-is-dood-Theologen", dan sê hy tereg: "We komen hier in aanraking met gedachten die vanuit de bijbel niet anders dan godslasterlijk genoemd kunnen worden".[xxx]

Waar die klem in die nuwere teologie al meer en meer op die mens val i.p.v. op God, is dit byna vanselfsprekend dat, soos inderdaad gebeur, die klem ook al meer sal val op die verantwoordelikheid van die mens.

Ds. J. H. Velema noem in hierdie verband dr. Dorothee Solle as voorbeeld en tipeer die denkrigting o.a. met hierdie woorde: "Nú is het tijd iets voor God te doen. God van de mens afhanke­lijk! ... Nu God van de mens afhankelijk is, is het aan de mens werk voor God te doen".[xxxi]

Die oordrewe beklemtoning van die verantwoordelikheid van die mens word ook al by sommige Suid-Afrikaanse Gereformeerdes aangetref.

As ds. C. Hattingh in sy brosjure "Die kerk en die Heilige Gees", handel oor die verantwoordelikheid van die mens in verband met die heilswerk van die Heilige Gees, sê hy instemmend: "J. H. Bavinck wys daarop dat die verantwoordelikheid van die mens tot openbaring kom: (2) Ten opsigte van die wederbarende heilswerk van die Heilige Gees. Die houding van die mens teenoor die heilswerk is van beslissende betekenis". Verder: "Weerstand teen God se wil lê op die weg van die mens se verantwoordelike wilsbeslissing. Hy kan vir God nee sê" .[xxxii]

Hier word soveel klem gelê op die verantwoordelikheid van die mens dat dit lyk asof die mens God die Heilige Gees kan weerstaan wanneer dit God se wil is om hom te wederbaar. Die mens se houding word gesien as van beslissende betekenis. Wat beteken dit anders as dat die mens uiteindelik beslis of hy wederbaar sal word of nie? Hierdie stand punt lei na die konsekwente konklusie dat God afhanklik is van die mens.[xxxiii]

Prof. W. J. de Klerk stel weer die Goddelike uitverkiesing teenoor die menslike verantwoordelikheid en skryf:

"Die predikers moet nie vlug vir die teëstelling verkiesing/verantwoordelikheid nie. Die verantwoordelikheid is die ‘vertrekpunt' van verbondsprediking ­die verkiesing is die ,arriveringspunt', en eers vanuit die sekerheid van die verkiesing deur die vrugte van die geloof vertrek die predi­king weer na die verantwoordelikheid van die dankbaarheidslewe".[xxxiv]

As dit al was wat De Klerk hieroor sou gesê het, sou 'n mens jou nog daarby kon neerlê. Hy skryf in "Woord en Antwoord" in hierdie verband egter: "Uitverkiesing is nie 'n beginpunt in die geestelike lewe van die mens nie".[xxxv]

Indien De Klerk gelyk het, is bv. Paulus se "vertrekpunt" in sy brief aan die Efesiërs ongelukkig gekies en sou 'n predikant of sendeling in 'n nuwe arbeidsveld nooit kon begin met 'n reeks preke uit hierdie deel van God se Woord nie. Paulus vertrek in hierdie brief vanuit God die Vader en die Here Jesus Christus en die uitverkiesing tot saligheid voor die grondlegging van die wêreld.[xxxvi]

Paulus kan in sy skrywe aan die nuwe kerke (wat seker nog nie die ‘arriveringspunt' in hul geestelike lewe bereik het nie) dus rustig by die uitverkiesing begin, om later eers by die verant­woordelikheid van die mens uit te kom.

A. D. R. Polman wys daarop dat baie predikers oor die uitver­kiesing swyg omdat hulle die mense nie wil verwar nie. Hulle argumenteer: Die waarheid is vir Christus dierbaar, maar ook die siele van sy skape! M.a.w. oor die predestinasie moet dan (aanvanklik in elk geval) geswyg word om die siel van die skape te wen. Polman wys daarop dat Calvyn hierteenoor sê: Dit is dwaas om te wil bedek wat God geopenbaar het.[xxxvii]

'n Ander voorstelling van sake wat al meer ingang vind binne die hedendaagse klemverskuiwing vanaf God na die mens, tree na vore in die volgende stelling wat al populêr begin word: "God is honderd persent verantwoordelik en die mens is honderd persent verantwoordelikheid". Hierdie "honderd-persent-honderd-persent" - po­ging kom neer op 'n ondermyning van die waarheid van bv. God se soewereiniteit en sy vrye welbehae. Maar dis ook 'n valse stelling, want as dit waar was dat God honderd persent verantwoordelik was en die mens ook honderd persent verantwoordelik, dan sou met net soveel reg verklaar kon word:

1) Die totstandkoming van die heelal is honderd persent toe te skryf aan God se skeppingswerk en honderd persent aan die proses van ewolusie.

2) Die verlossing is honderd persent genade van God en honderd persent verdienste van die mens.

Dit is duidelik dat ons met sulke rasionalistiese kunsgrepe nooit die verborgenhede van God se raad kan verklaar nie.

IV. Die Goddelike uitverkiesing en verwerping, as hooftema van die Dordtse Leerreëls, word geleer in die Heilige Skrif

'n Kort oorsig van slegs een Skrifgedeelte, naamlik Romeine 9, is genoeg om aan te toon dat ons in die Dordtse Leerreëls nie met 'n menslike denksisteem of 'n stukkie skolastiek te doen het nie, maar dat die Goddelike besluite en handelinge i.v.m. die uitverkiesing en verwerping onomwonde deur God se Woord geleer word. Ons het nie meer alle Gereformeerde teoloë aan ons kant as ons laasgenoemde stelling op grond van Rom. 9 maak nie. Berkou­wer skryf:

"Nu is echter over de bedoeling van Rom. 9-11 zeer veel te doen geweest en men kan zeggen, dat men meer en meer gaat accentueren, dat het hier niet gaat om een locus de praedesti­natione als een beschouwing over individueel heil en onheil, maar om heilshistorische verbanden, die zeker in de analyse van wat Paulus schrijft, geen ogenblik mogen worden verwaarloosd".[xxxviii]

Hy wys verder daarop dat die heilshistoriese gesigspunt vir die eksegese van Rom. 9-11 van beslissende betekenis is.[xxxix] Hy wil nie saam met Calvyn bv. by Rom. 9 : 17 "conclusies gaan trekken over het ,exempel' der verharding vanuit een eeuwig besluit en over de ver­werping der goddelosen".[xl] Berkhouwer deins blykbaar terug vir die konklusie wat Paulus self trek in Rom. 9 : 18.[xli]

Herman Ridderbos lê sterk nadruk (en tereg ook) op die heils­historiese aspek by die verklaring van Rom. 9-11.[xlii] Hy wys daarop dat Paulus in Rom. 9 oorgaan tot 'n opsetlike en uitvoerige bespreking van die plek wat die volk Israel inneem in die "goddelijke heils­economie" wat in Christus geopenbaar is. Dit word uit 'n heilshisto­riese oogpunt vir Paulus noodsaaklik (na Rom. 8) om op die vraag in te gaan. Ridderbos stem egter toe dat dit in Rom. 9 nie slegs gaan oor Israel se verkiesing nie, maar ook oor God se vrymag in genade­betoon en oordeel (Rom. 9 : 14-33).

S. Greijdanus dui hier m.i. nog steeds die regte weg aan.[xliii] Hy wys op die noue aansluiting van Rom. 9 by die slot van hfst. 8, veral by 8 : 33-39. Ná laasgenoemde lofsang dring die vraag hom vanself op: Maar wat dan van Israel? Die meeste van hulle het Christus dan verwerp! Wat het dan van hulle uitverkiesing geword? In hierdie verband, sê Greijdanus, word in Rom. 9 oor die vrymag van die Goddelike uitverkiesing gehandel, soos dit ook geld ten aansien van Israel. Dit gaan voJgens hom in Rom. 9-11 nie in eintlike sin en uitsluitend oor Israel nie.[xliv] Die eintlike onderwerp in hfst. 9 is die vrye verkiesing van God as vaste, alles bepalende grondslag van die verkryging van die heil; in hfst. 10 is dit die geloof as middel tot heilsgenieting; en in hfst. 11 gaan dit oor die manier waarop God sy heil laat ken en aanneem deur die wêreld en Israel.

In hierdie hoofstukke staan (volgens Greijdanus) God se han­deling ("Gods doen") op die voorgrond. God maak Hom hier bekend as die God wat in sy vrye welbehae verkies en verwerp. Prof. W. J. Snyman stel dit kort en duidelik in sy kommentaar oor Rom. 9-11: "Die geskiedenis van Israel toon dat God verkiesend werksaam is in die volvoering van sy heilsplan".[xlv]

Nadat Paulus in Rom. 8 : 29, 30 geroem het o.a. in die predes­tinasie deur God en in 8 : 33 triomfantelik gevra het: "Wie sal be­skuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?", kom die vraag in hfst. 9 vanself na vore: Wat dan van Israel, God se uitverkore volk? Is God se uitverkiesing miskien veranderlik? As Paulus op die vraag ingaan, betuig hy eers in 9 : 1-3 sy smart oor Israel se verwerping van God se heil in Christus. In vss. 4 en 5 wys hy op die groot voorregte van Israel. Die grootste daarvan is dat Christus uit hierdie yolk gebore is (vs. 5). In vss. 6-13 toon hy aan dat God se heilsbeloftes nie vir almal geld nie, maar slegs vir die uitverkorenes - ook uit Israel.[xlvi]

Vs. 6 is hier van besondere belang, veral die volgende woorde: "Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie". Die toestand van Israel (wat vir Christus verwerp het) staan in skerp teestelling met die groot voorregte van die volk. Dit is egter nie 'n bewys dat God se (belofte-) woord verval het nie.

Daar moet onderskei word tussen a) Israel na die vlees, en b) Israel volgens God se verkiesende voorneme. Laasgenoemde word as die saad van Abraham gereken en ontvang dus die heilsbeloftes. Die kring van die ware, geestelike Israel (die uitverkorenes) is dus kleiner as die van die vleeslike Israel.

Daarop volg vs. 7: "Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: In Isak sal jou nageslag ge­noem word". Hieruit is ook duidelik dat die ware, geestelike kindskap nie berus op vleeslike afstamming van Abraham nie. Daar word 'n skeiding gemaak tussen die kinders van Abraham: Die belofte is vir Isak, nie vir Ismael nie. Nie alle kinders van Abraham is kinders van God nie. God maak skeiding deur sy predestinasie. Dit hou tog nie alleen verkiesing in nie, maar ook verwerping. Vs. 8 bied 'n nadere verklaring van vs. 7.

Vs. 9: "Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal 'n seun hê". By hierdie vers sê Greijdanus: "Dat Izaak krachtens Gods belofte geboren is, en dat het bij het deel ontvangen in het heil, alles afhang van Gods vrije beschikking, stelt de apostel nader in het licht door beroep op Gods beloften aan Abraham, en op Zijn woord tot Rebekka aangaande haar beide kinderen".[xlvii]

Van die vrymagtige en soewerein bepalende werking van God se verkiesing gee Paulus nou nog 'n verdere Skrifbewys, in vs. 10: "En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader". Die kinders van Abraham (Isak en Ismael) het een vader gehad, maar verskillende moeders. Daarom kan dit tot 'n mate begryp word dat God onderskeid gemaak het tussen Isak en Ismael. By die kinders van Isak egter kom die vry­magtige karakter van die verkiesing nog sterker uit as by die kinders van Abraham: Jakob en Esau het nie alleen dieselfde vader gehad nie, maar ook dieselfde moeder, en daarby was hulle 'n tweeling ­in byna alle opsigte was daar volkome gelykheid. En tog maak God Self onderskeid tussen hulle, en wel reeds voor hulle geboorte !

Die enigste verklaringsgrond vir die onderskeid wat tussen hulle gemaak word, lê dus in die Goddelike voorbeskikking, in die uitver­kiesing en verwerping. In hierdie verse word God geopenbaar as die God wat vrymagtig onderskeid maak, sonder die toedoen van die mens. Die leerstuk van die verkiesing en verwerping ("dubbele predestinasie") pas volkome in by wat ons van God leer ken, nie slegs uit Romeine nie, maar ook reeds uit Genesis.[xlviii]

God maak (vrymagtig) onderskeid tussen die kinders (Jakob en Esau) voordat hierdie kinders hulle van mekaar kon onderskei deur hulle dade. Die verwerping van Esau is dus nie maar 'n han­deling van God in die tyd as reaksie op Esau se optrede nie, maar rus in God se besluit wat onderskeid maak nog vóór die kinders se geboorte. Vs. 11: "Want toe die kinders nag nie gebore was en nag geen goed of kwaad gedoen het nie - dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep. .." In hierdie vers word 'n verdere punt van gelykheid tussen die kinders gestel. Hier is dus nog 'n verdere bewys dat slegs God se vrymagtige verkiesing die lot en die heil van die mens bepaal.[xlix]

Uitverkiesing is hier nie "een uitkiezen van hetgeen in zichzelf beter is dan iets anders, maar, zoals uit dit gehele verband blijkt, een nemen naar het loutere welbehagen van God, Die verkiest wat Hij wil, zonder eenigen grond voor die keuze in den gekozene".[l]

Daarby leer ons hier dat God se uitverkiesing onveranderlik is. Dit "bly" (Grieks: menei[3]), omdat dit nie afhanklik is van die veranderlike mens nie, maar slegs van God se welbehae. By die uitverkiesing draai alles om God. Dis of die eerste akkoorde van die lofsang van Rom. 11 : 36 hier al uit die verte hoorbaar word: "Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid". Hier in Rom. 9 word so duidelik moontlik van die uitverkiesing gesê: "Nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep". Herman Ridderbos wys daarop dat Paulus hier 'n nadere om­skrywing gee van God se verkiesende voorneme, soos dit in die geskiedenis van Rebekka gerealiseer word:

"Hy doet dit echter in woorden, waarin tevens de ganse antithese tussen zijn evangelie­prediking en de synagogale verlossingsleer ligt uitgedrukt. Aldus wil hy doen gevoelen, hoezeer in de wijze, waarop God Israel als zijn volk heeft aangenomen en geformeerd, reeds de aard en de inhoud van het evangelie openbaar werden, nl. dat de gerechtigheid Gods zonder de werken der wet is en alleen op het Goddelijk welbe­hagen berust".[li]

Verkondiging van die Goddelike uitverkiesing is deel van die Evangelieverkondiging. Ons kan daarmee ook "vertrek" in die prediking, want dis uitgangspunt en eerste skakel in die Goddelike heilsorde.

Uit vs. 13 blyk dat God se uitverkiesing ook indiwidueel is:"Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat". Die uitverkiesing is nie net toegespits op volke nie, maar ook op persone, hier is Jakob en Esau, en in hulle persone ook hulle nage­slagte, die volke uit hulle gebore, Gen. 25 : 23. In vs. 13 word die grond aangewys wat bewerk dat Esau (die oudste) vir Jakob die jongste) sal dien: God se liefde (tot Jakob) en God se haat (jeens Esau) bepaal hul lot. Ook midein[4] (haat) is positief, en mag nie in verswakte betekenis geneem word nie. Dat ons hier staan voor dieptes wat ons nie kan peil nie, mag ons nie verlei tot verswakking van wat hier in God se Woord staan nie.[lii]

Dit is seker geregverdig om uit verse 11 tot 13 af te lei dat God se liefde vir Jakob in die tyd rus in sy besluit in die ewigheid, soos God se haat vir Esau in die tyd rus in sy besluit in die ewigheid. Ons haal met instemming aan wat Dijk skryf as saamvatting van die Skriftuurlijke getuienis oor die verwerping:

"Gode zijn al Zijn werken van eeuwigheid bekend en er geschiedt niets of het is uitvoering van Gods raad; deze daden (nl. van verwerping en ver­harding - Ph. S.) voeren ons tot Zijn besluit".[liii]

Nadat Dijk ander Skrifgegewens behandel het, sê hy: "Maar het sterkst vinden we de leer der verwerping geopenbaard in Rom. 9". En dan gaan hy voort: "De apostel beroept zich nog op Mal. 1 : 2, 3, en ook deze liefde en haat Gods voert hij terug tot Gods besluit".[liv]

In Rom. 9 : 14 v.v. word God se vrymag in genadebetoon en oordeel nader en wel teenoor vrae en teëwerpinge bely. Die eerste teëwerping teen die leer van die Goddelike predestinasie wat Paulus behandel, is die volgende: Kan uit die redenering van Rom. 9 : 6-13 nie tot die slotsom geraak word dat God onregverdig is nie?

In sy antwoord op die beswaar haal hy sekere tekste aan (in vss. 15-18), nie met die doel om die regverdigheid van God te bewys nie (vgl. vs. 20), maar om aan te toon dat God van Homself so spreek soos hy in verse 6 tot 13 gedoen het. Paulus ontken dus ten sterkste dat sy redenering onreg aan God sou kon toedig. Daarop volg vs. 15: "Want aan Moses se Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barm­hartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm". Alle nadruk val op die soewereiniteit van die Goddelike genade. So ook in vs. 16: "So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is".

Teen hierdie uitspraak loop die dwalinge van alle Semi-Pelagiane, Remonstrante, Metodiste en geesgenote hulle te pletter. Nie die inspanning van die mens ("wil" en "hardloop" op die atletiekbaan) bepaal of hy verlos word of nie, maar die vrye ontferming van God.

Hoe kan dan in hierdie verband ooit beweer word: "God honderd persent verantwoordelik, en die mens is honderd persent verantwoordelik?"

En teenoor die ontferming het ons die parallelle lyn van die verharding. Vs. 17: "Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde".

Soos God vrymagtig sy barm­hartigheid bewys, so laat Hy ook vrymagtig die vyande van sy saak optree om sy Naam te verheerlik. Toegepas op die predestinasie: sowel in die uitverkiesing as in die verwerping gaan dit om die eer van God!

Aan God se handeling met Farao ontleen Paulus nou die bewys van God se vrymag, vs. 18: "So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil". Ook hier val alle nadruk op God, naamlik op sy wil en op sy handeling. Vs. 18 is 'n konklusie wat Paulus trek uit die voorgaande verse.

Die tweede teëwerping wat Paulus behandel, vind ons in vs. 19: "Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan oog, want wie het sy wil weerstaan?" Hierdie beswaar raak die probleem van die Goddelike voorbeskikking en die menslike verantwoordelikheid. So raak die teëwerping ook die vraag na die regverdigheid van God:

God het mos geen reg om te verwyt as Hy selfs verhard (vir Farao) ook nie. As God só vrymagtig beskik (in sy raadsbesluit, vlg. bsulēma[5] = die wil van sy raadsbesluit, in onderskeiding van thelēma[6] = die wil van sy gebod of bevel) oor die bestaan en die bestemming van die mense, is daar tog geen moontlikheid dat enige skuld nog op hulle rekening geplaas sou kon word nie. Dan is hulle tog nie verantwoordelik nie?

Paulus probeer nie om hierdie teëwerping te weerlë nie. Hy voer geen teëargumente aan nie. Daarmee toon hy dat die probleem in die teëwerping nie reg gestel is nie en dat sodanige redenering fout is (Greijdanus). Hy ontken die reg van die mens om hoegenaamd so te spreek soos wat in die teëwerping gedoen word wanneer hy in vs. 20 sê: "Maar tog, 0 mens, wie is jy wat teen God antwoord?" God se hoogheid en die mens se nietigheid maak dit ongeoorloof om so 'n teëwerping te maak. Die mens moet onthou dat hy maar net 'n skepsel is en God die almagtige en alwyse Skepper. Die beeld wat Paulus dan in die volgende verse uitwerk - die van maker en maaksel, van pottebakker en klei - stel sowel God se mag as sy reg en sy wysheid in die lig.

"Maar tog, 0 mens, wie is jy wat teen God antwoord?"

Baie van die nuwere teoloë het hierdie bestraffing van Paulus besonder nodig. Ook die teoloog moet onthou: Hy is maar net 'n mens, nie 'n god nie! En as mens het hy, ook in sy teologiese arbeid, nie die reg om God tot verantwoording te roep nie!

Slot

1. Met die belydenis van die waarheid wat in die Dordtse Leerreels geformuleer is, gaan dit om die waarheid van die Skrif self. Daarom moet die handhawing en die verdediging ook van hierdie belydenisskrif nie gesien word as verstarring en dooie ortodoksie nie, omdat so 'n beskuldiging net 'n dekmantel vir potensiële of latente dwaalleraars kan wees.

2. Ons verwerp alle teologiese diskussies waarin twyfel gesaai word i.v.m. ons Belydenisskrifte, omdat dit o.i. stry met die onder­tekeningsformulier vir professore en predikante.

3. Die Heilige Skrif leer nie alleen die Goddelike uitverkiesing nie, maar ook die verwerping - en dit nie slegs as handeling nie maar ook as besluit van God. Die Skrif leer God bv. as die uitver­kiesende God "wat alles werk volgens die raad van sy wil" (Ef. 1: 11) en bevestig die uitspraak in die Dordtse Leerreels I, 6: "Dat God sommige in die tyd met die geloof begiftig, ander nie begiftig nie, kom voort uit sy ewige besluit".

4. Van deurgronding van die Skriftuurlike leer van die uitverkiesing en verwerping kan daar by die mens nooit sprake wees nie. Hier pas diepe nederigheid; maar ook die loflied:

“0 Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy wee! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Horn gegee, dat dit Hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid" (Rom. 11 : 33-36).

DISKUSSIE[7]

Prof. dr. L. F. Schulze vra: Hoeveel persent is die mens verantwoordelik ?

Ek voel my tog gedronge om in alle beskeidenheid enkele opmer­kings te maak oor die artikel van my vriend ds. Ph. Snyman (vgl. In die Skriflig, Jaargang 6, nr. 23, Sept. 1972).

Daar staan mooi dinge in sy artikel oor die Dordtse Leerreëls en die opkoms van die moderne humanisme met hul bevraagtekening van die Konfessie. 'n Mens ontkom egter nie aan die benouende ge­voel dat die skrywer uit reaksie teen die oorbeklemtoning van die mens se prestasies en verantwoordelikheid in die ander eensydigheid tereg kom nie, nl. die onderbeklemtoning (of selfs die ontkenning) van die mens se verantwoordelikheid.

Moontlik bring hierdie reaksionêre afsku vir die modernisme hom daartoe om die Reformasie vir die inkwisisie in te ruil. Dan word onder punt III van sy artikel, wat handel oor die bestryding van die Dordtse Leerreëls in die jongste tyd, die name genoem van die "God is dead boys", soos Cox, Van Buren en andere en ook van die Dordtse dame, D. Solle - ten regte. Maar in dieselfde asem word die name van twee Gereformeerde manne van ons land genoem – m.i. ten onregte.

Dit gaan nie nou hier om die verdediging van die twee broeders nie maar eerstens oor die modus operandi, nl. dat uit twee enkele sinnetjies uit 'n hele brosjure per konsekwensie gekom word tot die "konsekwente konklusie dat God afhanklik is van die mens" (p.8).

In die ander geval lê die angel in 'n enkele sin, nl.: "Uitverkie­sing is nie 'n beginpunt in die geestelike lewe van die mens nie". Ds. Snyman bestry hierdie stelling met 'n beroep op Paulus se brief aan die Efesiers, waar Paulus begin met die uitverkiesing. Hy meen dat hierdie "nuwe kerke . .. seker nog nie die arriveringspunt in hulle geestelike lewe bereik het nie". En dan word gevra: "... sou 'n predikant of sendeling in 'n nuwe arbeidsveld nooit kon begin met 'n reeks preke uit hierdie deel van God se Woord nie" (p. 9, my kursivering).

Nou hang alles seker af van die vraag of die "nuwe arbeidsveld" reeds 'n jong gestigte kerk impliseer of nie. Indien wel, dan het ons hier 'n analogie met Paulus se brief aan die Efesiërs. Maar dan is die verkiesing geen "vertrekpunt" meer nie, want die gemeente in Efese is nie meer heidene nie, maar 'n gemeente, gelowiges wat God ken en opbouend dieper ingelei word in die rykdom van God se genade. Die beswaar dat hulle nog nie die "arriveringspunt" be­reik het nie is hier sekondêr - trouens wie en watter gemeente be­reik dit op aarde?

Aan die ander kant: indien ons die "vertrekpunt" letterlik en absoluut moet neem en die "nuwe arbeidsveld" dus as heidene sien wat nog nooit die evangelie gehoor het nie, dan word hier 'n tipe gemeentelike "stigtingsprediking" (vgl. C. H. Dodd) gepropageer waarvoor daar geen enkele aanwysing in die N.T. te vinde is nie ­nóg by die aanvangsprediking van Jesus, Johannes, die apostels (Handelinge) of by Paulus (vgl. 1 Kor. 15 : 1-4).

Hierdie paar opmerkings word afgesluit met 'n aanhaling van Calvyn wat klaarblyklik ook - goed bybels - van oortuiging was dat die predestinasie nie die "vertrekpunt" van die verkondiging kan wees nie. Hy skryf die volgende: "But I do not merely send men off to the secret election of God to await with gaping mouth salvation there. I bid them make their way directly to Christ in whom salvation is offered us, which otherwise would have plain hid in God. For whoever does not walk in the plain path of faith can make nothing of the election of God but a labyrinth of destruction. Therefore, that the remission of sins may be a certainty to us, our consciences rest in confidence of eternal life, and we call upon God as Father without fear, the beginning is not to be made here. We must begin with what is revealed in Christ concerning the love of the Father for us and what Christ Himself daily preaches to us through the Gospel". (Concerning the Eternal Predestination of God, translated by J. K. S. Reid, p. 113 - kursivering van my).

'n Tweede saak, wat verwarrend werk, is ds. Snyman se onder­skeiding tussen handeling en besluit, wat nie net onderskei word nie maar kontrasterend teen mekaar afgespeel word, en dan wel só (ek hoop my indruk is verkeerd en dan moet hy my reg help) dat Gods handeling in die tyd eintlik weggeskuif moet word ten gunste van die besluit in die ewigheid, wat dan die eintlike saak sou wees.

Hy skryf nl. in punt 3 van die Slot: "Die Heilige Skrif leer nie alleen die Goddelike uitverkiesing nie, maar ook die verwerping ­en dit nie slegs as handeling nie maar ook as besluit van God" (p. 14). Ook al sou hierdie stelling 'n polemiek teen Berkouwer wees (vgl. p. 7) dan wek die hantering van die begrippe tog verwarring. Sou God dan 'n "handeling in die tyd" uitvoer wat Hy nie besluit het of wil nie?

Blykbaar lê die probleem daarin dat die tyd in die ewigheid terug geprojekteer word en oor die besluit per se in die verlede tyd gespreek moet word in onderskeid van die (sekondêre) hande­ling in die hede. Daarom is dit goed om in die verband maar weer Kuyper se formulering in herinnering te roep, wat 'n ou teologiese insig weergee: Decretum Dei est Deus decernens. Of die mooi woorde van Bavinck in Geref. Dogmatiek II (1928), p. 334: "De raad Gods is evenmin als de generatie eene daad Gods in het verleden; hij is eene eeuwige daad Gods, eeuwig voltooid en eeuwig voortgaande, buiten en boven de tijd . . . En hij is evenmin te denken als een plan, dat ergens gereed ligt en nu op uitvoering wacht".

Die canones van Dordt honoreer hierdie saak ook deur die verkiesing te omskrywe as besluit (1, 6) as onveranderlike voorneme (I, 7) en ook as daad (= handeling) van God (1, 11).

Dit sou vrugbaarder gewees het om die bleek praescientia van die Remonstrante (los van die wil van God) vanuit hierdie hoek ook te benader. Dan was die verwarring in elk geval uitgeskakel.

'n Derde probleem, en dit raak die kern van die saak, is die hartseer manier waarop ds. Snyman die verantwoordelikheid van die mens wil wegsyfer. Hy het beswaar teen die stelling: God is honderd persent verantwoordelik en die mens is honderd persent verantwoordelik. Hy motiveer sy beswaar soos volg:

"Hierdie ,hon­derd-persent-honderd-persent'-poging kom neer op 'n ondermyning van die waarheid van bv. God se soewereiniteit en sy vrye welbehae. Maar dis ook 'n valse stelling, want as dit waar was dat God honderd persent verantwoordelik was en die mens ook honderd persent ver­antwoordelik, dan sou met net soveel reg verklaar kon word:

1) Die totstandkoming van die heelal is honderd persent toe te skryf aan God se skeppingswerk en honderd persent aan die proses van ewolusie.

2) Die verlossing is honderd persent genade van God en hon­derd persent verdienste van die mens.

Dit is duidelik dat ons met sulke rasionalistiese kunsgrepe nooit die verborgenhede van God se raad kan verklaar nie".

Ek stem van harte saam met die laaste opmerking van die skrywer. Ek deel ook heelhartig sy verwerping van hierdie stelling. Ek grond dit egter op heel ander redes:

1) Dit is lasterlik om te sê: "God is verantwoordelik". Aan wie is Hy dan verantwoording verskuldig? Aan die mens? Nee! Hy is tog die soewereine Heerser wat geen raadgewer het nie en aan niemand verantwoordelik is nie (Jes. 40).

2) Die stelling impliseer dat God en sy skepping, d.w.s. God en mens, korrelate groothede is, wat onvermydelik die valse dilemma van die sunergisme na vore roep.

Nou is dit jammer dat die skrywer lg. dilemma nie ontwyk het nie maar, blykens sy beswaar op hierdie stelling, baie duidelik bly vassit in die problematiek van die sunergisme. Daarmee het hy sy eie betoog teen die moderne teologie ontkrag omdat hulle voluit God en wêreld as korrelate en gelykwaardige groothede sien (vgl. P. W. Bingle: Die stryd rondom die leer aangaande die triniteit met besondere verwysing na die vierde en twintigste eeue, in dieselfde nommer van In die Skriflig, p. 32).

Miskien kan die probleem van ds. Snyman die skerpste na vore kom as ons vra: Hoeveel persent is die mens dan wel verantwoordelik? Sou dit 50% wees, of 10% of 1%? Selfs al sou dit 1 % wees, dan moet God se "verantwoordelikheid" verminder word tot 99% en dan bly die mens nog as "konkurrent" van God medeverantwoordelik vir sy heil of vir sy onheil.

Op hierdie basis van "konkurrensie" moet, ter wille van die godddelike soewereiniteit, die menslike verantwoordelikheid gere­duseer word tot 0%. Dit kan nie anders nie. Maar dan het ons die Bybel verloor en beland in die onbarmhartige kloue van die monster van die Griekse fatalisme. Want die Bybel ken twee lyne: die van Gods soewereine heerskappy en almagtige verkiesende liefde in Jesus Christus en ook die van die verantwoordelikheid van die mens (vgl. ook Can. I, 5) - en dan 100% ! Die Bybel ken egter nie God en mens as konkurrente nie en verkiesing en verantwoordelikheid lê nie op dieselfde vlak nie. Dit het Augustinus, en op sy voetspore Luther en Bucer en Calvyn, baie duidelik gesien en geleer.

Dis genoeg om hier 'n enkele sin van Calvyn in sy polemiek teen Pighius aan te haal: "The dispute between us is not whether men perish by the hidden judgement of God beyond their deserts. This we declare to be false and detest as a foul sacrilege" (Con­cerning the Eternal Predestination of God, p. 156).

Die "konsekwensies" wat ds. Snyman uit die stelling trek is ook ongelukkig omdat in die eerste geval die mens se verantwoordelik­heid gelyk gestel word, met die proses van evolusie en in die tweede geval met verdienstelikheid.

Die eerste geval helder 'n argument van Calvyn op. Hy wys daarop dat God in sy almag gesê het: Laat die aarde voortbring. . . laat die plante en bome vrugte gee... Maar as die mens geskep word, ontvang hy 'n opdrag; en Paulus sê: Wie nie werk nie, sal nie eet nie. Die mens kan dus nie net sommer vrugte pluk nie. Hy moet werk! Dis sy verantwoordelikheid.

DISKUSSIE[8]

Ds. Ph. Snyman, ViLjoenskroon, skryf oor: "Goddelike soewe­reiniteit en menslike verantwoordelikheid".

In die uitgawe van Maart 1973 van In die Skriflig (wat onder­getekende op 22 Mei ontvang het), verskyn 'n reaksie van prof. L. F. Schulze oor 'n artikel van my wat in September 1972 van dieself­de blad verskyn het.

Kort saamgevat, kom prof. S. se reaksie op my artikel neer op "die benouende gevoel dat die skrywer uit reaksie teen die oorbe­klemtoning van die mens se prestasies en verantwoordelikheid in die ander eensydigheid tereg kom, nl. die onderbeklemtoning (of selfs die ontkenning) van die mens se verantwoordelikheid".

L.w. prof. S. se konklusie dat ek die verantwoordelikheid van die mens wegredeneer, spruit uit 'n "benouende gevoel" dat ek dit wel doen. As 'n teoloog hom deur sy gevoel laat lei by die beoordeling van 'n stuk werk van iemand anders, loop hy nie slegs die gevaar van subjektiwisme nie, maar kan hy ook sonder objektiewe gronde (soos inderdaad in die professor se reaksie gebeur) selfs die monster van die "inkwisisie" (bl. 40) oor die horison sien loer, en verder daar agter die aaklige kloue van die Griekse "fatalisme" (bl. 42). So 'n benouende gevoel kan 'n mens maklik die vrees laat koester dat ons op die weg die "hele Bybel verloor". Ek kan dan ook nie objektief antwoord op die "ge­voel" wat in prof. S. wakker geroep is by die lees van my artikel nie.

Ter wille van wedersydse begrip wil ek egter kortliks antwoord op 'n paar opmerkings wat die professor in sy reaksie maak:

1. Prof. S. meen dat my "reaksionere afsku vir die modernisme" my moontlik daartoe bring "om die Reformasie vir die inkwisisie in te ruil" (bl. 40). Die professor spreek so (sy eie woorde) "in alle beskeidenheid" met 'n paar "opmerkings 'n geweldige oordeel uit, blykbaar i.v.m. my afwysing van 'n paar Suid-Afrikaanse Gerefor­meerdes se (m.i.) verkeerde beklemtoning van die verantwoordelik­heid van die mens. Oor hierdie beswaar van prof. S. kortliks die volgende:

1.1. Die prof. gee 'n verkeerde aanduiding van die derde deel van my artikeI. Hy skryf o.a.: "Dan word onder punt III van sy artikel, wat handel oor die bestryding van die Dordtse Leerreëls in die jongste tyd, die name genoem van ..." Punt III van my artikel handel nie oor die bestryding van die D.L. in die moderne of jongste tyd nie (dit word in punt II gedoen), maar oor die "klemverskuiwing vanaf God na die mens in die nuwe teologie", soos dit in daardie opskrif aangedui word, en nader bepaald oor die "oordrewe beklemtoning van die verantwoordelikheid van die mens". In dié verband word enkele uitsprake van "die twee broeders" afgewys. Dit maak nogal 'n groot verskil.

1.2. Prof. S. het beswaar teen die modus operandi wat ek gevolg het in my bestryding van genoemde uitsprake, nl. "dat uit twee enkele sinnetjies uit 'n hele brosjure per konsekwensie gekom word tot ‘die konsekwente konklusie dat God afhanklik is van die mens’ ".

Ek vra: Is een enkele sin nie soms genoeg om die bedoeling van die skrywer duidelik te maak nie? Veronderstel iemand sou in 'n lywige publikasie o.a. die een sinnetjie skryf: "Die Goddelike gesag van die Heilige Skrif staan nie vas nie". Moet my modus operandi dan wees om te wag op meer sulke stellings voor ek ook in 'n ge­publiseerde stuk daarop reageer?

1.3. Prof. S. het beswaar teen my afwysing van die stelling: "Uitverkiesing is nie 'n beginpunt in die geestelike lewe van die mens nie" en in dieselfde verband teen my afwysing van die be­skouing dat die verbondsprediking nie met die uitverkiesing mag begin nie.

My antwoord: Die uitverkiesingsleer is deel van die Evangelie. Die prediker het m.i. geen reg om enige deel van die blye boodskap van verlossing doelbewus en skematies te verswyg in die eerste fase van die prediking nie. Maar dan moet ook hierdie deel van God se raad reg en versigtig verkondig word, nl. "in Christus" (Ef. 1 : 4). Fatalisme en determinisme word daar aangetref waar die uitverkiesing los van Christus (as 'n koue denksisteem) verkondig word. Ek gee toe dat geen prediker, wat die voorbeeld van Christus en die apostels se prediking volg, in die reël met die uitverkiesing sal begin nie, maar dit gee ons geen reg om 'n skema vir prediking voor te skryf waarby die uitverkiesing steeds na die toekoms verskuif moet word omdat die hoorders miskien nog nie die arriveringspunt in hulle geloofslewe bereik het nie. Wie die uitverkiesingsleer doel­bewus en kategories uitsluit uit die eerste fase van die prediking, loop die gevaar om dit ook uit die latere fase van die prediking uit te sluit en dit uiteindelik heeltemal te verswyg. Dit is geen denkbeeldige gevaar nie, maar kom algemeen in ons land voor, gewoonlik omdat die prediker altyd onseker sal wees of die gemeente (of sommige van die hoorders dan) al die stadium in hul geestelike lewe bereik het dat hulle die Bybelse uitverkiesingsleer kan verteer.

Die Here Jesus Self het aangetoon dat daar situasies mag ont­staan waar die prediker, selfs waar 'n groot deel van die hoorders volslae "beginners" in die geestelike lewe is, nie langer mag swyg oor die uitverkiesingsleer nie. Ek verwys hier slegs na Joh. 6 (vgl. verse 44, 65 en 60, 66).

2. Vervolgens prof. S. se beswaar insake "Ds. Snyman se onder­skeiding tussen handeling en besluit", asof ek die twee teen mekaar afspeel. My antwoord:

2.1. Die onderskeiding is nie myne nie, maar 'n onderskeiding van ons belydenis self (o.a. D.L. I, 6) wat rus op die Skrif (o.a. Ef. 1 : 11).

2.2. Die onderskeiding word deur Berkouwer afgewys sover dit die verwerping betref, soos ek in my artikel probeer aantoon het. Daarom stel ek juis dat uitverkiesing en verwerping nie bloot 'n reaksie (handeling) van God in die tyd was nie, maar 'n handeling wat spruit uit Sy besluit van ewigheid af.

3. Prof. S. se derde beswaar raak "die hartseer manier waar­op ds. Snyman die verantwoordelikheid van die mens wil wegsyfer". Hierop antwoord ek:

3.1. Prof. S. deel heelhartig my verwerping van die stelling: "God is honderd persent verantwoordelik en die mens is honderd persent verantwoordelik". Hy stem egter nie saam met die "hartseer manier" waarop ek dit doen nie. Die professor verstaan egter my "manier" honderd persent verkeerd. (Daaroor is ek saam met horn hartseer!) Hy se nl.: "Die ‘konsekwensies' wat ds. Snyman uit die stel­ling trek is ook ongelukkig omdat in die eerste geval die mens se verantwoordelikheid gelyk gestel word met die proses van evolusie en in die tweede geval met verdienstelikheid".

My antwoord: Vertrouende op die "goeie begrip" en die "halwe woord" het ek gemeen dat dit vir enige intelligente leser duidelik sal wees dat ek daar nie besig is om konsekwensies te trek nie, maar om die absurditeit van die stelling (100% ... 100%) aan die kaak te stel deur te wys op analoë stellings !

3.2. Prof. S. laat ook 'n belangrike motivering weg wat ek gee ter bestryding van die stelling dat God 100% verantwoordelik is en die mens ook 100% verantwoordelik, nl. Rom. 9 : 16: "So hang dit dan nie af van die een wat wil of die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is". My kommentaar daarby was o.a. nog: "Nie die inspanning van die mens ("wil" en "hardloop" op die atletiekbaan) bepaal of hy verlos word of nie, maar die vrye ont­ferming van God. Hoe kan dan in hierdie verband ooit beweer word: “God is 100% verantwoordelik, en die mens is 100% ver­antwoordelik'?" (bl. 13).

Saamvattend oor die vraag na die verantwoordelikheid van die mens (i.v.m. prof. S. se diskussie):

Ek aanvaar en beklemtoon saam met alle Skrifgelowiges ten volle die verantwoordelikheid van die mens. Ek verkondig dit ook skerp in die prediking van die Woord. In my artikel, waarna prof. Schulze verwys, bestry ek slegs die verkeerde beklemtoning van daardie verantwoordelikheid, nl. waar dit geskied ten koste van die beklemtoning van God se soewereiniteit, nader bepaald i.v.m. God se verlossings­werk. (Lg. is juis wat deur die Remonstrante gedoen is.) Daarom behandel ek in my artikel slegs Rom. 9 wat in hierdie verband vir ons baie te sê het.

As ek die ontkenning van die mens se verantwoordelikheid moes weerlê, sou ek ander Skrifgedeeltes behandel het wat spesifiek op die saak betrekking het. Die hele Bybel is vol van oproepe tot geloof, goeie werke, gebed, ens. En as ek die kerkgeskiedenis reg lees, het juis die kerke van Calvinisties-Gereformeerde oortuiging, wat die sterkste moontlike klem laat val op die Goddelike soewe­reiniteit soos o.a. geopenbaar in uitverkiesing en verwerping, ook die sterkste klem gelê op die verantwoordelikheid van die mens, en dit nie slegs in teorie nie, maar dit ook in praktyk o.a. deur vermaning en tugoefening gehandhaaf.



[1] In die Skriflig, Jaargang 6, nr.23, September 1972: 3-16 (Lesing gelewer voor die G.T.V. van die O.V.S. te Bloemfontein op 15 April 1971). Die eindnotas (romeinse syfers) is deel van die teks, die voetnotas (gewone syfers) is bygevoeg deur S. Le Cornu.

[2] Emeritus-predikant van die GKSA.

[3] menei

[4] midein

[5] Bsulhma

[6] qelhma

[7] In die Skriflig, Jaargang 7, Nommer 25, Maart 1973: 40-43. Emeritus-professor in Kerk- en Dogmageskiedenis van die GKSA.

[8] In die Skriflig, Jaargang 7, Nommer 26, Junie 1973: 49-51.



[i] Ds. J. G. Feenstra: "De Dordtse Leerregelen". Kampen, 1950.

[ii] Dr. L. H. Wagenaar: "Van Strijd en Overwinning". Middelburg, 1909.

[iii] Die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus.

[iv] Dr. L. H. Wagenaar: a.w.

[v] Dr. L. H. Wagenaar: a.w., bl. 108.

[vi] A.w., bl. 109.

[vii] A.w., bl. 109, 110.

[viii] Feenstra: a.w., bl. 10, 11.

[ix] Ds. H. J. Spier: “Karl Barth. Profeet of Ketter?" Delft, 1952, bl. 51.

[x] Spier: a.w., bl. 51.

[xi] Spier: a.w., bl. 52.

[xii] Spier: a.w., bl. 52.

[xiii] Spier: a.w., bl. 54, 55.

[xiv] 14 Spier: a.w., bl. 56.

[xv] 15 Dr. E. G. van Teylingen: "Tussentijdse Balans van het heroriëntatieproces in de Gereformeerde Kerken". Kampen, 1965.

[xvi] Van Teylingen: a.w., bl. 12.

[xvii] Van Teylingen: a.w., bl. 15.

[xviii] Van Teylingen: a.w., bl. 116.

[xix] Van Teylingen: a.w., bl. 16.

[xx] Van Teylingen: a.w., bl. 17.

[xxi] Van Teylingen: a.w., bl. 17.

[xxii] Dr. M. J. Arntzen: “De Crisis in de Gereformeerde Kerken". Amster­dom, 1965.

[xxiii] Dr. M. J. Arntzen: a.w., bl. 5.

[xxiv] Dr. M. J. Arntzen: a.w., bl. 6.

[xxv] Dr. G. C. Berkouwer: "Dogmatische Studiën. De Verkiezing Gods". Kampen 1955, bl. 211.

[xxvi] Dr. G. C. Berkouwer: a.w., bl. 214.

[xxvii] Terloops: Dwaling is al dikwels in die geskiedenis van die kerk en die teologie as vernuwing aangedien. As die regte etiket op die dwaling geplak word, is daar min teoloë wat wil agter bly of wat verstoke wil wees van die voorreg en eer van vernuwing. By sommige nuwere denkrigtings word die oue (bv. die Belydenis) verwerp of genegeer net omdat dit oud is ... soos sommige "tradisionaliste" die nuwe verwerp net omdat dit nuut is.

[xxviii] Dr. G. C. van Niftrik: "Theologische Revolte", 'n hoofstuk in G. C. Berkouwer e.a. se "Revolte in de Theologie". Nijkerk, 1968, bl. 19.

[xxix] Van Niftrik: a.w., bl. 19.

[xxx] Ds. J. H. Velema en dr. W. H. Velema: "Nieuwe Wegen Oude Sporen", bl. 33.

[xxxi] Velema: a.w., bl. 45.

[xxxii] Ds. C. Hattingh: "Die Kerk en die Heilige Gees", bl. 52.

[xxxiii] Weerstand teen God (die Heilige Gees) is die gewone werklikheid by alle mense: van nature sê die sondaar vir God “nee". Ons ontken nie die weerstand van die mens nie, maar dat die weerstand sal slaag as God die mens wil wederbaar. En dit is waarom dit gaan in die aangehaalde gedeelte van ds. Hattingh se werk. Die houding van die mens teenoor die wederbarende heilswerk van die Heilige Gees is dus wel van betekenis, dog nie van beslissende betekenis nie.

[xxxiv] Ds. W. J. de Klerk: "Wending?" Bl. 43, 44.

[xxxv] Ds. W. J. de Klerk en J. H. van Wyk: “Woord en Antwoord", bl. 115.

[xxxvi] Ef. 1 : 1-6.

[xxxvii] Dr. A. D. R. Polman: "Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis, Deel II, bl. 191.

[xxxviii] Dr. G. C. Berkouwer: "De Verkiezing Gods", bl. 249.

[xxxix] Berkouwer: a.w., bl. 250.

[xl] Berkouwer: a.w., bl. 250.

[xli] "So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil".

[xlii] Dr. Herman Ridderbos: "Aan de Romeinen" (Commentaar op het N.T.). Kampen, 1959.

[xliii] Dr. S. Greijdanus: "De Brief van den apostel Paulus aan de gemeente te Rome". Deel II. Amsterdam, 1933.

[xliv] Greijdanus: a.w., bl. 9.

[xlv] Prof. W. J. Snyman, e.a.: "Die Bybel met Verklarende Aantekeninge". Deel III. Kaapstad, 1959.

[xlvi] Greijdanus: a.w., bl. 404.

[xlvii] Greijdanus: a.w., bl. 416.

[xlviii] Verkiesing is ondenkbaar sonder verwerping, as besluit en as handeling. "Onderskeid maak" is hier dan ook niks anders nie as: verkies en verwerp.

[xlix] Greijdanus: a.w., bl. 419.

[l] Greijdanus: a.w., bl. 419.

[li] H. Ridderbos: a.w., bl. 213.

[lii] Greijdanus: a.w., bl. 422.

[liii] Dr. K. Dijk: "Van Eeuwigheid Verkoren". Delft, 1952.

[liv] Dijk: a.w., bl. 133.

No comments: