Wednesday, February 14, 2007

Eiewillige godsdiens, deur ds. PJ De Bruyn

EIEWILLIGE GODSDIENS
Ds. P.J. de Bruyn
(Die Kerkblad, 13 Julie 1966, bl.5)

Baie Christene se geloofslewe word geruïneer deur eiewillige godsdiens. Om dit te kan verstaan, moet ons goed begryp wat eiewillige godsdiens is.

Eiewillige godsdiens beteken volgens ons Kate­gismus dat ons God op 'n ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel (Antwoord 96).[1] Eiewillige godsdiens word by ons gevind wan­neer ons God dien soos óns wil en nie soos Hý wil nie.

In ons diens aan die Here word niks aan eie smaak, of willekeur oorgelaat nie. Dit is nie óns wat bepaal hoe en wanneer God gedien moet word nie, maar Hy self. Godsdiens is trouens alleen dan ware diens aan God as ons te alle tye doen wat Hy wil en nie wat ons wil nie.
­
Aan hierdie eiewillige godsdiens het Israel hulle veral skuldig gemaak in die tyd van die rigters, want van hulle word gesê dat elkeen in dié tyd gedoen het wat reg was in sy eie oë (Rigt.21: 25). Let wel: hulle het nie gedoen wat reg was in die oë van God nie maar wat reg was in hulle eie oe.

Eiewillige godsdiens is in werklikheid niks an­ders nie as 'n verheerliking van die eie ek onder die skyn van diens aan die Here. Dit val ‘n mens ook op hoe mense wat hulle aan hierdie sonde skuldig maak, gedurig die nadruk op die eie ek met sy verlange en begeertes lê. Altyd moet jy maar weer hoor: Ek doen wat ek wil. Ek gaan kerk toe as ek lus het. Ek gee bydraes soos ek meen wat reg is. Ek lees die BybeI en bid wanneer dit my pas.

Onder die dekmantel van diens aan die Here kniel die mens wat so spreek eintlik neer voor die afgod van sy eie ek.

Ons moet goed besef dat daar net twee moontlikhede is: Of ek is voorwaardelik gehoorsaam aan wat God sê, of ek is gehoorsaam aan wat die afgod van my eie ek aan my sê - en dan pleeg ek afgo­dery. Dan probeer ek om God van die troon af te stoot en self daarop te gaan sit.

Dat God Hom oor so 'n lewenshoudjng ver­skriklik vertoorn, is gewis en seker.

Hoe erg God se toorn oor eiewillige godsdiens is, blyk duidelik uit die geskiedenis van Nadab en Abihu, die seuns van Aäron (Lev.10:1-5).

In die tempeldiens wat hulle moes verrig, moes hulle vuur neem en reukwerk daarop blaas om so ‘n reukoffer aan die Here te bring. Maar in die neem van die vuur het hulle nie presies gehandel soos die Here beveel het nie. En daarom word daar gese dat hulle vreemde vuur voor die aangesig van die Here gebring het. Hulle het hulle nie deur die Here laat voorsê hoe die vuur moet wees wat hulle moes neem nie maar hulle het hulle eie idees gevolg! Daarom was dit vreemde vuur. Hulle het God op 'n ander wyse vereer as wat Hy in sy Woord beveel het. En so groot was die toorn van die Here oor hierdie eiewillige godsdiens dat daar vuur van sy aangesig af uitgegaan het wat Nadab en Abihu verteer het.

Vir hierdie geskiedenis kan ons nog duideliker merk wat die aard en karakter van eiewillige gods­diens is. Hieruit blyk dat die mense wat dit be­oefen, bekend is met God se Woord as rigsnoer vir die lewe en hulle wil ook nog daaraan vashou, maar dan net sover dit nie in botsing met die eie gedagtes en begeertes kom nie.

By sulke mense, soos by Nadab en Abihu, is van openlike goddeloosheid wat van God en sy diens niks wil weet nie, geen sprake nie. Uiterlik is daar nogal heelwat Christelike vertoon. Maar as dit van hulle geëis word om te alle tye te doen wat God sê, dan is daar baie verskonings. Dan doen elkeen liefs wat reg is in sy eie oë en nie wat reg is in die oë van die Here nie.

Eiewillige godsdiens is uiteindelik ’n godsdiens waarin daar vir Christus geen plek is nie, want by Christus vind ons presies die teendeel van wat ons vind by die wat hulle aan hierdie sonde skuldig maak. Christus het die gebooie van sy Vader tot in die fynste besonderhede onderhou. Self het Hy die verklaar dat dit sy spyse is om die wil te doen van sy Vader wat in die hemele is (Joh.4:34).

En nou word Christus hier nie maar net as voor­beeld van getroue gehoorsaamheid aan die Vader aan ons voorgehou nie. Nee, deur die geloof moet ons aan Christus verbonde wees soos die ranke aan die wynstok sodat dieselfde Gees en derhalwe dieselfde gesindheid wat daar in Hom was, ook in ons kan wees. Dan sal dit inderdaad ons begeerte wees om God op geen ander wyse te vereer as wat Hy in sy Woord beveel nie.

Dan sal ons ook waarlik van harte kan sê.

Net om U wil te doen soos in u Boek
- die wonderskrif wat nooit vergaan –
dit klaar van my geteken staan -
dit wil ek, Heer, van ganse harte soek.

_________________________________

[1] Opmerking deur S. Le Cornu: Die negatiewe formulering van hierdie frase soos dit in ons belydenis by v/a 96 gevind word, stel die kontras tussen eiewillige en ware godsdiens nog sterker (1982): “... en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.” Die oorspronklike Duits gee die begronding vir hierdie belangrike aspek (1563): “... noch auff irgend eine andere weise ...”; die Latyn (1563): “... néve ulla alia ratione eum colamus ...”; die Nederlands (1611): “... noch op gheen ander wijse vereeren ...”; (Oberholzer, J.P. 1986. Die Heidelbergse Kategismus in vier teksuitgawes, met inleiding en teksvergelyking. Pretoria, Kital: p.132).
Die Duitse bywoord/adjektief “irgend”, dui op “... intensifying indefiniteness of following pronoun or pronominal comparitive/compound ...” (Cassell’s German Dictionary, 1980: p.328), d.w.s. dit wys op (a) die onbeperktheid van dit wat volg, en (b) wat na hierdie woord volg word verder of nog meer versterk en beklemtoon as dit wat voorafgegaan het. Daarom kan antwoord 96 met die laasgenoemde opmerking as motivering, as volg geparafraseer word ten einde die bedoeling nog duideliker na vore te bring: “Nie net mag ons die heilige God van hemel en aarde op geen enkele manier probeer afbeeld nie, maar soveel te meer mag ons op géén ander manier Hom probeer vereer en aanbid, as wat Hy ons in sy heilige Woord beveel het nie !” Die tweede deel, positief geformuleer: “Ons mag God alleen vereer en aanbid soos Hy in sy Woord presies beveel het.”

No comments: